

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 November 2009
Kort ná die hofverskyning van die 61-jarige sakeman wat na bewering met ‘n 17-jarige seun gelol het, het daar vandeesweek nog ‘n man in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn op onder andere ‘n klag van verkragting waarin die klaagster maar tien jaar oud is.
‘n Lugmagsersant van LMB Makhado het na bewering sy 10-jarige stiefdogtertjie verkrag en orale seks met haar gehad.
Supt. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het vandeesweek bevestig dat die 34-jarige lugmagsersant verlede Dinsdag, 2 November, in hegtenis geneem is.
Dit volg nadat die moeder van die dogtertjie vroeër dieselfde dag op pornografiese beeldmateriaal van die dogtertjie en die man afgekom het op die gesin se rekenaar.
Na bewering hou die klagte teen die man verband met ‘n voorval waar hy die meisie anaal verkrag het en haar gedwing het om orale seks met hom te hê, terwyl hy dit met sy selfoonkamera af-geneem het.
Volgens Otto ondersoek die polisie bewerings dat die verkragting al ‘n geruime tyd voortduur.
Die man het die foto’s van homself en die dogtertjie ook na die tyd vir die dogtertjie gewys en haar gedreig dat daar moeilikheid sal wees indien sy vir iemand iets sou sê.
Die man het ná sy inhegtenisname vlugtig in die hof verskyn op een klag van verkragting, een klag van die misbruik van ‘n minderjarige vir die vervaardiging van kinderpornografie, een klag van die vertoon van kinderpornografie aan ‘n minderjarige en een klag van die besit van kinderpornografie.
Die man het Woensdag weer vlugtig in die hof verskyn. Hy sal in aanhouding bly tot en met sy volgende hofverskyning op 16 November. Hy sal dan na verwagting ‘n borgaansoek bring.
Intussen is die tienjarige dogtertjie in die sorg van haar ma toevertrou.

ADVERTISEMENT:
