

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 November 2009
Rondloperbeeste was die afgelope week weer die oorsaak van ‘n noodlottige ongeluk wat die lewe geëis het van prominente plaaslike politikus mnr. Timothy Maanda.
Die 41-jarige Maanda is dood nadat sy voertuig met ‘n rondloperbees gebots en omgeslaan het net buite Louis Trichardt op die Madombidzha-pad. Hy is dood verklaar met sy aankoms by die hospitaal.
Maanda het in 1999 die onderwys verlaat en aangesluit by die Demokratiese Alliansie (DA). In 2000 word hy verkies as proporsionele verteenwoordiger van die DA in die Makhado Munisipaliteit, waarna hy in 2002 verkies word as streeksvoorsitter van die DA hier. Vanaf 2004 tot 2007 het hy die DA in die provinsiale wetgewer verteenwoordig, waarna hy oorgeloop het na die ANC.
Saterdag se ongeluk waarin Maanda dood is, het weereens die kollig geplaas op die probleem van rondloperdiere op die streek se paaie. In een van die ergste ongelukke op die streek se paaie wat veroorsaak is deur rondloper diere, is 17 mense in Februarie 2007 dood, nadat twee busse op die Tshikowi/Rabali-pad in die Nzhelele-area teen mekaar gebots het. Dit het gevolg nadat een bus uitgeswaai het vir ‘n rondloper donkie.
Botsings met veral rondloperbeeste is feitlik ‘n daaglikse gebeurtenis en padgebruikers vra nou strenger optrede van owerheidskant teen die eienaars van die diere. Die vraag word gevra hoeveel mense nog moet sterf, voordat daar daadwerklik opgetree gaan word teen die eienaars van hierdie diere. Die Madombidza-pad is reeds berug vir botsings met rondloper beeste. Die maand wat Maanda se noodlottige ongeluk voorafgegaan het, is daar herhaaldelik in die Zoutpansberger oor die probleem geskryf. Ook op die Vivo-pad is rondloperbeeste ‘n groot probleem.
Nodeloos om te sê, was daar geen sigbare teken van wetstoepassing rondom die probleem nie.
Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het Dinsdag by navraag gesê dat verkeersbeamptes sedert Saterdag se ongeluk hul patrollering op die streek se paaie opgeskerp het en dat hulle Maandag reeds 15 beeste geskut het. Hy het bygevoeg dat hulle ook na ander moontlikhede sal kyk om die probleem aan te spreek. Dit sluit blykbaar nie die moontlikheid uit om rondloperdiere wat ‘n gevaar vir motoriste veroorsaak, summier van kant te maak nie.
Wat die probleem van rondloperdiere verder bemoeilik, is die feit dat die eienaars van die diere selde ná ‘n ongeluk opgespoor kan word. Die rede hiervoor, in die geval van beeste, is omdat baie van hierdie diere nie volgens wet gebrandmerk is nie. Derhalwe is die eienaars moeilik identifiseerbaar.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Woensdag gesê dat hulle steeds op soek is na die eienaar van die bees wat die ongeluk veroorsaak het.
“Ons wag nog vir ‘n verslag van die bevelvoerder van die veediefstaleenheid,” het Sadike gesê. Hy het aangedui dat sou die eienaar opgespoor kan word, hy of sy regstappe in die gesig sal staar. Intussen word ‘n saak van strafbare manslag ondersoek.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
