ADVERTISEMENT:

 

Telefoonlyne en krag bly in die slag toe N1 oopgeskiet word

 

News  Date: 05 December 2003

 

MUSINA - 'n Reuse ontploffing, as deel van konstruksie werk aan die N1 tussen Makhado (Louis Trichardt) en Musina, het verlede Woensdag 'n totale onderbreking van telefoondienste aan Musina, Beitbrug, Nancefield en Tshipise tot gevolg gehad.

'n Subkontrakteur, verantwoordelik vir skietwerk as deel van die opgraderingsprojek van die N1, het 'n lading plofstof om ongeveer 10:00 afgesit. Hy het egter nagelaat om met Telkom in verbinding te tree om toe te sien dat die nodige stappe geneem word om te verhoed dat hul hooflynnetwerk beskadig word. In die proses is Telkom se lyne sowat 20 kilometer vanaf Musina afgeskiet. 'n Heining van 'n aangrensende plaas, Waterside, is ook in die ontploffing beskadig.

Volgens 'n Telkomwoordvoerder op Musina, me. Riana Robbertse, het die ontploffing tot gevolg gehad dat telefoongebruikers in die Musina-, Nancefield-, Beitbrug- en Tsipise-areas tot 13:00 sonder telefoondienste was. Datalyne, sê sy, kon eers teen 15:00 weer herstel word.

Mnr. Dirk Steyn (projekingenieur) het die week genoem dat die betrokke kontrakteur 'n nuwe aanstelling is. Hy het bygevoeg dat dit die eerste keer is wat die kontrakteur skietwerk doen. Mnr. Steyn sê dat alhoewel die kontrakteur nagelaat het om met Telkom te skakel, hy wel toestemming gehad het om te skiet. Daarbenewens, sê hy, het die kontrakteur later die dag voortgegaan met sy skietwerk. Mnr. Steyn sê daar is ook dadelik toegesien dat alle skade wat deur die ontploffing aangerig is, herstel word.

Wat moontlike eise betref, het mnr. Steyn gesê dat, sou daar eise uit die voorval spruit, dit met die betrokke kontrakteur uitgesorteer moet word. Hy het genoem dat dit die eerste keer is dat so iets gebeur tydens die kontrak.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines