ADVERTISEMENT:

 

‘n Algemene blik op die ZPSF se pakstoor op Malelane, waar die voorbereiding van houers met nood- oorlewingsvoorrade vir bejaardes in Zimbabwe aan die gang is. Spesiale kersgeskenkpakkies word ingesluit in die volgende uitreikaksie wat teen die einde van die maand onderneem word.

Zim-bejaardes se nood steeds baie groot

 

News  Date: 13 November 2009

 

Die erns van die noodsituasie waarin bejaardes in Zimbabwe hulle steeds bevind, kan nie oorbeklemtoon word nie, sê past. Attie Botha van die Zimbabwe Pensioner Support Fund (ZPSP), ‘n geregistreerde welsynsorganisasie.

In sy verslag oor die Oktober-uitreik aksie na Zimbabwe se bejaardes wys Botha daarop dat bejaardes in Zimbabwe geensins baat vind by die gedeeltelike verbetering van toestande in die land nie.

“Die verbetering baat slegs die sowat 10% van die bevolking wat gelukkig genoeg is om ‘n werk te hê. Ons teikengroep baat geensins daarby nie, omdat hulle geen pensioen ontvang nie. Buitelandse betaalmiddele (Amerikaanse dollars en Suid-Afrikaanse rande) is vir hulle bloot ‘n misterieuse droom. Die situasie van hierdie bejaardes in Zimbabwe is inderdaad besig om te versleg en ons het u hulp nodig om hulle te onderskraag in hierdie moeilike tye,” sê past. Botha.

Die ZPSF onderneem elke ses weke ‘n uitreik-aksie na bejaardes in Zimbabwe, met behulp van ‘n toegewyde span vrywilligers, spesiaal- toegeruste swaarvragmotors en ‘n netwerk van werwingspunte regdeur Suid-Afrika, vanwaar voorraad versamel word in die reuse pakstoor op Malelane.

Ná ‘n besoek aan dié pakstoor het ‘n weldoener onlangs opgemerk: “Hier besef ‘n mens eers werklik die ontsaglike taak wat hierdie mense (ZPSF) vir hulleself opgelê het. Hulle het hier ‘n pakstoor waar al die voorraad gesorteer, getel, geberg en verpak word in spesiaal voorbereide kartondose, met elke ontvanger se naamkaartjie, die inrigting waar hulle tuis is en die dorp waarin die inrigting is daarop. Alles word op lêer geplaas en in spesiale volgorde in die vragvoertuie gelaai om hantering en aflewering te vergemaklik. Die hele proses word van begin tot einde gemoniteer. Dit is werklik ‘n omvangryke, professionele operasie wat deur Hannes en Attie Botha en hul gesinne gehanteer word met behulp van ‘n groep werklik toegewyde helpers.”

Op die jongste uitreik-aksie het die span altesaam 6 550 km afgelê, 2 170 liter diesel gebruik teen ‘n koste van R16 492 en een buiteband moes vervang word teen nagenoeg R4 300.

“Die totale waarde van die voorraad, insluitende die vervoer en oorgrenskostes, het meer as R200 000 beloop,” lui die verslag.

Die Bothas se span beoog om hul finale hulptog vir die jaar, die Kersfees-uitreik, teen die einde van die maand (30 November) aan te pak .

Die ZPSF se nuwe bankbesonderhede vir donasies is: Zimbabwe Pensioners Support Fund, Eerste Nasionale Bank, Malelane, Takkode 270952, Rekeningnommer 62239042906.

Die Bothas kan gekontak word op 082 901 2291. Die e-pos adres is [email protected]

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines