ADVERTISEMENT:

 

“Vyf pogings later en ek is steeds sonder rybewys”

 

News  Date: 13 November 2009

 

Met ‘n mate van “skok” het ek kennis geneem van die berigte van rybewyse wat by die asgate gevind is.

Ek is oortuig daarvan dat die gebeurtenis heel moontlik ‘n betreurenswaardige gesig mag hê.

Die Vrydag voor die algemene munisipale staking het ek, na vier voorafgaande “tandekners” afsprake, dubbele dokters- en oogtoetsafsprake, eindelik daarin geslaag om my aansoek vir hernuwing van rybewys in die “bekwame hande” van mnr. Thomas Maluleke te laat.

Vyf vrugtelose pogings hierna van bakboord, ene Pontius Mdua, na stuurboord, ene Pilatus Elijar, is tot hede nog sonder enige welslae. Einde ten laaste het ek ‘n geregistreerde posstuk met die probleem aan die heer Festus munisipale bestuurder versend. Bykomend hiertoe het ek nog per verdere aangetekende pos, ‘n genade pleidooi tot oplossings van die probleem aan die keiser self, die heer Zuma, gestuur.

Mnr. Mudau is of gesigloos of foonloos, want hy kan nooit gevind word nie en versoeke van “bel my asseblief terug” het soos slegte wyn al suurder en suurder verouder.

Elijar het beweer dat my legger nie opgespoor kan word nie en het gesê dat mnr. Maluleke nie die reg gehad het om die aangeleentheid te hanteer nie. Nog verder het hy twee maal sy foon beantwoord en gesê dat hy nou vanaf Polokwane terug onderweg is en die probleem binne ‘n dag opgelos sal wees ... seker dié dag nadat die sokkerbeker afgehandel is.

Steeds bly ek stuurwielloos, lisensieloos, en ergste van alles ... leggerloos, want dié het heel moontlik op die asgate beland! Ek sou graag wil weet hoeveel ander slagoffers wie in die tyd sake met ons “skougehalte” munisipaliteit gedoen het, is ook tans leggerloos?

Daar is ‘n Afrikaanse spreekwoord wat sê: “As die hond nie ‘gedinges’ het nie ... kon hy die haas gevang het.” Wanneer gaan dié munisipaliteit ophou om te sit en “dinges” en ‘n slag begin hase vang?

- Gert van Zyl (Louis Trichardt)

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines