

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 November 2009
Eers het die bande geskreeu, gevolg deur ‘n harde slag en toe klap die skote, met omstanders wat skarrel vir skuiling.
Drie verdagtes het Dinsdag hier kort voor 12:00 hul rieme lelik styfgeloop op Louis Trichardt ná ‘n onderonsie met ‘n op-en-wakker polisiediens.
Drie mans in ‘n swart Opel Corsa het ‘n man dopgehou wat ‘n groot hoeveelheid aankope by Buyers World gedoen het in Presidentstraat. Toe die man wegtrek, het die drie in die Corsa hom agtervolg en by Bredastraat van die pad af geforseer. ‘n Wakker omstander het besef dat dit moontlik ‘n roofpoging kan wees en die polisie is ontbied.
Die polisie het dadelik gereageer en die drie in die Corsa het die hasepad gekies. Daarna het ‘n wilde jaagtog deur die strate van Louis Trichardt gevolg.
“Ek wou net wegtrek, toe skiet die Corsa voor my oor die stopstraat. Terwyl ek nog so sit en dink hoe byna ek bokveld toe gery is, skiet ‘n polisievoertuig ook teen spoed hier voor my verby. Toe weet ek, daardie mannetjies het moeilikheid,” vertel mnr. Pieter Jooste, bemarkingsbestuurder vir die Zoutpansberger en Limpopo Mirror.
Oomblikke later het die drie in die Corsa die draai op die hoek van President- en Erasmusstraat ‘n bietjie kort gevat. Hul voertuig het getol en met ‘n slag teen ‘n miershoop voor Africa Hardware tot stilstand gekom. Soos blits het hulle uit die voertuig gespring, maar die polisie was kort op hul hakke.
Die polisie het verskeie skote op die verdagtes geskiet. Twee is op die toneel aangekeer, terwyl die derde teen druktyd nog soek was.
“Ek het die polisievoertuig langs die pad gesien toe ek daar verbygery gekom het. Die volgende oomblik toe klap die skote en ek sê vir myself, hier moet jy nie wees nie,” vertel nog ‘n inwoner, mnr. Peter Menné.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Woensdag gesê ‘n string klagtes met betrekking tot verkeersoortredings is teen die mans geopen. Ongelukkig het die verdagtes se aanvanklike teiken nooit ‘n verklaring by die polisie kom aflê nie.
Ongeag hiervan, sê kapt. Sadike, bestaan die moontlikheid dat die betrokke verdagtes deel is van ‘n sindikaat wat die afgelope paar weke amok maak in Louis Trichardt ten opsigte van rowe, inbrake en inbrake by voertuie.
“Een, moontlik twee, van die verdagtes het reeds in die verlede op soortgelyke klagte in die hof in Thohoyandou verskyn,” het kapt. Sadike gesê. Hulle word ook verbind met die sogenaamde muti-slenter waar hulle muti op ‘n persoon strooi en dan geld van hom of haar eis om die “vloek” te verwyder.
Teen druktyd was die verdagtes steeds in aanhouding.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
