ADVERTISEMENT:

 

Fisser-verhoor begin eers vier jaar na moord

 

News  Date: 20 November 2009

 

Die 25-jarige Lesley Manganye, wat daarvan beskuldig word dat hy in 2006 ‘n skrikbewind in Louis Trichardt gevoer het, het verlede Maandag weer in die plaaslike landdroshof verskyn.

Manganye word ondermeer daarvan beskuldig dat hy ‘n bekende sakeman van Louis Trichardt, mnr. Ben Fisser, op 9 April 2006 koelbloedig in sy huis doodgeskiet het.

Manganye is vroegoggend op 28 Julie 2006 by die minibus-staanplek in Burgerstraat aangekeer, danksy knap speur- en opvolgwerk deur drie lede van die polisie se plaaslike misdaadvoorkomingseenheid. Manganye, wat afkomstig is vanaf Valdezia, het gepoog om per bus terug te gaan na Elim.

Buiten vir die moord op mnr. Fisser, staar Manganye ‘n verdere 54 aanklagte in die gesig.

Hy is onder meer ook positief verbind met die huisbraak, poging tot roof en poging tot moord op mev. Rita Swart op 5 April 2006, die huisbraak en poging tot roof by dr. Dirk Jacobs op 10 April 2006, die gewapende roof van mnr. Leon Furstenburg op 13 April 2006 en twee klagte van poging tot moord en een van poging tot gewapende roof op die Van den Berg-egpaar op 18 April 2006. Genoemde misdade is almal in Louis Trichardt gepleeg.

Die misdaadvlaag in die dorp het skielik hierna afgeneem, nadat die pistool wat Manganye na bewering in die aanvalle gebruik het, ure na die skietaanval op die Van den Berg-egpaar by die taxistaanplek in Burgerstraat gevind is.

Die pistool, wat einde Maart 2006 by ‘n woning in Van Warmelostraat gesteel is, is volgens die polisie ook positief met die misdade verbind.

Tydens een van Manganye se hofverskynings in Maart vroeër vanjaar, is daar ‘n Hooggeregshofdatum vasgestel, bykans drie jaar ná die moord op Fisser.

Manganye se saak is egter Maandag uitgestel vir 17 tot 21 Mei volgende jaar, sodat ‘n addisionele 11 klagtes by sy klagstaat gevoeg kan word en al die getuies opgespoor kan word.

Hy sal in aanhouding bly tot dan.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines