

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 December 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Noodlenigingswerk is nog aan die gang in verskeie dorpies binne die munisipale gebied, waar talle gesinne dakloos gelaat is toe meer as 130 wonings beskadig is in verlede week se stormgeweld.
Hewige stormwind, reën en haelbuie, gepaard met swaar donderweer, het einde verlede week verwoesting gesaai in Madombidzha, Tshiozwi, Gogobole en Rathdili, suid- en suidwes van die dorp. Een inwoner van Tshiozwi is in die stormgeweld dood.
Die plaaslike Stadsraad, met behulp van die rampbestuur sentrum in Thohoyandou, het tente en noodvoorrade aan daklose gesinne verskaf. Kospakkies vanaf die sentrum is ook Saterdag en Sondag, en aan die begin van vandeesweek versprei onder gesinne wat deur die stormramp getref is.
Altesaam 134 woonhuise en ander geboue – onder meer 'n poskantoor – is beskadig.
'n Een-en-sestigjarige inwoner van Tshiozwi is vermoedelik weens skok en ontbering dood, nadat sy woonplek ernstig beskadig is. Hy is na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal afgevoer, waar hy beswyk het.
Op Madombidza is 46 woonhuise, twee kerkgeboue en die poskantoor beskadig, en vier gesinne dakloos gelaat. Op Tshiozwi is 60 woonhuise beskadig en 12 gesinne dakloos gelaat. Op Rathidili is 12 woonhuise beskadig. Drie gesinne moes van noodskuiling voorsien word. Sestien woonhuise op Gogoboli is ook getref.
Die meeste van die skade is binne 'n kort tydjie aangerig, toe 'n buitengewone sterk fratswindstorm, gepaard met swaar donderweer en 'n kortstondige haelbui, die dorpies getref het. Sinkplate en dakke is deur die wind afgeruk en bome omgewaai.
Die kragtoevoer is op plekke onderbreek waar pale omgeruk is en sommige strate en paaie was tydelik onbegaanbaar weens water en modder wat daaroor gestroom het. Munisipale werkers moes te midde van moeilik-begaanbare roetes worstel om die kragnetwerk te herstel.

ADVERTISEMENT:
