ADVERTISEMENT:

 

Jong paartjie slagoffers van kapingsdrama in middedorp

 

News  Date: 27 November 2009

 

Dit is een van daardie gevalle wat ‘n mens onwillekeurig wonder wat jy sal doen as dit jou oorkom, terwyl jy terselfdertyd bid dat jy nooit uitvind nie, naamlik wat jy sal doen as jy gekaap of ontvoer word.

Vir Jeanette Rademeyer (19) en haar vriend Jacques Fevrier (25) van Louis Trichardt is dit nie meer nodig om te wonder nie.

Op Vrydag, 20 November, om ongeveer 18:00 moes hulle vinnig stilhou in Pieter Ottostraat, oorkant ‘n bekende prokureursfirma. Ironies genoeg was hulle op pad vanaf die plaaslike polisiestasie na ‘n winkel om melk te gaan koop. Twee mans het ewe rustig aangestap gekom en skynbaar by die voertuig verbygeloop. Skielik het een van hulle die agterste deur oopgeruk, die jongmense met ‘n wapen gedreig en beveel om oor die sitplekke te klim na die bagasieruim van die voertuig, ‘n Toyota Land Cruiser. Nadat hulle plat gaan lê het op die vloer van die voertuig, het die ander persoon ingeklim en hulle het begin ry, vermoedelik in die rigting van die N1. Die mans het intussen hulle bankkaarte, selfone, juweliersware en kontant afgeneem. Daarna moes hulle die pinnommers van hulle kaarte aan die mans oorhandig, met die belofte dat dit die regte nommers was, aangesien ‘n verkeerde pinnommer baie nadelige gevolge vir hulle sou inhou.

‘n Ent verder het die voertuig gestop en nog ‘n man het ingeklim. Die kapers het dit toe duidelik gemaak dat hulle Zimbabwiërs is, dat hulle daagliks moor en steel en nie sal huiwer om die twee dood te maak nie. Hulle het daarna nog verskeie kere stilgehou. By een geleentheid het hulle almal uit die voertuig geklim en alles het stil geraak. Net toe die jongmense begin hoop dat hulle die pad gevat het, het die kapers teruggekeer en weer ingeklim en gery. Nie te lank daarna nie het hulle weer van die pad afgedraai. Hulle het kort daarna weer gestop en Jeanette en Jacques beveel om uit te klim. Teen daardie tyd was dit reeds donker.

Twee van die kapers het toe vir Jacques beveel om saam met hulle die bosse in te loop. Toe Jeanette wou saamloop, het die een met die wapen haar gedwing om weer in die voertuig te klim, dié keer op die agterste sitplek. Vir Jacques het hulle ‘n ent van die pad af in die bosse vasgebind en daar laat lê. Hulle het toe in die voertuig geklim en weer ‘n lang ent gery. Hierdie keer kon Jeanette regop sit en het toe gesien dat hulle op die Soekmekaarpad is, nadat hulle by die Daviesville en Botlokwa kruising verby gery het. Sy het hulle gesmeek om haar af te laai, maar hulle het geweier. Die man met die wapen het in daardie stadium gedreig dat hy haar gaan doodmaak, maar nie onmiddellik nie, aangesien hulle haar “nodig het in Bulawayo”. Daarop het een van die ander mans hom tereggewys en aan Jeanette gesê dat sy haar nie hoef te bekommer nie, hulle sal haar aflaai, aangesien hulle nie “tyd het om van ‘n lyk ontslae te raak nie”.

‘n Entjie verder het hulle gestop en vir Jeanette afgelaai. Hulle het ook haar hande met ‘n kous vasgemaak. Skielik het daar motorligte oor die bult verskyn en die man met die wapen het haar beveel om weer in die voertuig te klim. In die proses het hy haar in die maag gestamp. Toe alles vir die mans veilig gelyk het, het hulle haar weer laat uitklim en beveel om die veld in te hardloop, weg van die pad af. Sy het tot by die draad langs die padreserwe gehardloop, waarna hulle haar beveel het om deur die draad te klim en nog verder te hardloop. Met die deurklim deur die draad het sy haar hande losgekry. Sy het toe in die veld gewag tot die mans uiteindelik gery het.

Gelukkig vir die jongmense het Jeanette twee selfone gehad en net een van hulle aan die kapers oorhandig. Die ander een het sy in haar stewel ingedruk, wat sy gelukkig nie nodig gehad het om uit te trek nie. Toe dit veilig was, het sy haar ouers gebel. Pa Michael het haar gekalmeer en aangeraai om nie dadelik terug te keer pad toe nie. Hy het toe die polisie op Soekmekaar geskakel en gereël dat ‘n polisiebeampte haar kom oplaai. Terwyl sy vir die polisieman gewag het, het Jeanette deur die bosse teruggeloop pad toe en in ‘n sloot langs die pad begin aanstap in die rigting van Soekmekaar. Op advies van Michael het die polisieman haar geskakel toe hy naby die plek kom waar sy gewag het. Hulle het mekaar ontmoet en die soektog na Jacques het dadelik begin.

Op sy beurt het Jacques intussen daarin geslaag om los te kom en teruggekeer na die pad. Hy het onsuksesvol probeer om voertuie voor te keer om hom op te laai, totdat ‘n polisievoertuig in die rigting van Soekmekaar aangery gekom het. Hy is toe saam met die bestuurder na die polisiestasie daar. Intussen het Michael en sy skoonpa die soekende Jeanette en die mense saam met haar langs die pad opgespoor en help soek na Jacques. Hulle het egter besluit om nog ‘n polisievoertuig te ontbied om met die soektog te help, waarna hulle toe die blye nuus hoor dat Jacques reeds by die polisiestasie is.

Die polisie op Soekmekaar het dadelik die registrasienommer van die voertuig geneem, waarna die jongmense teruggekeer het na Louis Trichardt, waar die misdryf begin het. Teen daardie tyd het die kapers reeds geld uit albei se rekeninge onttrek, asook aankope gedoen by ‘n winkel met die kaarte. Verder het Jacques, wat in Botswana werk, ook sy paspoort en lisensie verloor. Terwyl die kapers met hulle rondgery het, het iemand hulle geskakel op een van die selfone en bevestig dat die pinnommers van die kaarte korrek is en wat die daaglikse ontrekkingslimiet op elkeen is. Dit skep die vermoede dat hulle deel is van ‘n sindikaat, wat kontakte op die “regte plekke” het. Niemand is nog in verband met die voorval gearresteer nie en die voertuig is ook nog nie teruggevind nie. Die Rademeyers is baie beïndruk met die goeie behandeling en professionele optrede van die polisie en het hulle dank uitgespreek daarvoor.

“Dis net die hand van die Here wat die kinders bewaar het,” sê Ma Mariaan.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines