

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 November 2009
Die Voorsittersvereniging het aangedui dat hulle weer die beplande naamsverandering van Louis Trichardt gaan beveg. Dit volg op ‘n ministeriële aanbeveling aan die Nasionale Geografiese Naamraad dat die naam moet verander.
“Hulle manier van werk is ‘n skande vir Suid-Afrika. Hulle werk met ‘n verskuilde agenda en volg prosesse wat geen integriteit toon nie ... Die hof gaan frons oor die hantering van die saak en daardie ‘frons’ is ‘n spesiale kostebevel teen munisipale raadslede en lede van die provinsiale naamskomitee,” het mnr. André Naudé, voorsitter van die Voorsittersvereniging (VV) gesê.
Die Makhado Munisipaliteit het aanbeveel dat die naam van die dorp verander word na Makhado, met Tshirululuni as tweede keuse.
Die provinsiale geografiese naamkomitee, onder voorsitterskap van mnr. Mavhungu Musitha, het die munisipaliteit se aanbeveling in November na die Suid-Afrikaanse Geografiese Naamsraad (SAGNR) gestuur. Musitha het op 24 November gesê dat sy komitee nie die aanbeveling maak nie, maar slegs die munisipaliteit se aanbeveling deurstuur na die nasionale naamraad.
Die komitee het ná ontvangs van die aanbeveling bykomstige dokumentasie van die munisipaliteit aangevra. Naudé het gesê dat die VV geen insae in daardie dokumentasie gekry het of ‘n kans gekry het om daarop te reageer nie.
“Dit is duidelik dat die provinsiale naamskomitee kop in een mus is met die Makhado Munisipaliteit. Hulle het die saak terugverwys na die munisipale raad om lippediens te bewys aan ‘n konsultasieproses, waarmee hulle geen erns gehad het nie. Hierdie aangeleentheid word nou verwys na die SAGNR, terwyl daar geen konsultasieproses was nie,” sê Naudé.
Hierdie is die tweede poging van die munisipaliteit om die dorp se naam na Makhado te verander. Nadat die naamsverandering die eerste keer in die staatskoerant gepubliseer is, het die Voorsittervereniging binne die voorgeskrewe 30 dae beswaar aangeteken. Die saak het voor die hooggeregshof in Pretoria gedien, waar die naam Makhado gehandhaaf is. Die VV het hulle na die appèlhof gewend wat in Maart 2006 uitspraak gegee het dat die verandering na die naam Makhado tersyde gestel moet word, omdat behoorlike konsultasieprosesse nie gevolg is nie.
Vandat die tweede munisipale aanbeveling die provinsiale naamskomitee bereik het, is die komitee voortdurend deur die VV versoek om op hoogte gehou te word van die proses. Op 16 November is Naudé deur die SAUK geskakel vir kommentaar oor die aanbeveling na die nasionale geografiese naamsraad. Dit was die eerste woord wat hy daarvan gehoor het.
By navrae het mnr. Musitha gesê dat daar geen wetlike verpligting op hom rus om kennis te gee van die voorlegging aan die nasionale naamsraad nie.
“Ons het ook nie die munisipaliteit in kennis gestel dat ons ‘nasionaal gegaan’ het nie. Dieselfde geld vir die Voorsittersvereniging,” het Musitha gesê.
Die nasionale naamsraad sou op 7 en 8 Desember vergader het, maar volgens Musitha is die vergadering na Januarie volgende jaar uitgestel.
“Daar is geen waarborg dat die saak by daardie vergadering op die agenda sal dien nie,” het Musitha gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
