

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 November 2009
Gedink dit is veiliger om jou geld eerder binne die bank te trek? Dink weer.
Na ‘n bykans twee-maande-lange ondersoek het polisie vier personeellede van ABSA Bank op Louis Trichardt in hegtenis geneem op klagte van diefstal.
Die vier, Patricia Shipalana, Dennis Khubays, Amanda Makhubela en Ivy Maphephu, het Vrydag, 13 November op ‘n klag van diefstal in die plaaslike landdroshof verskyn.
Luidens ‘n polisieverklaring is daar ‘n ondersoek geloods nadat lede van die publiek begin kla het oor geld wat verdwyn uit hulle rekenings. Die verdagtes het na bewering op verskeie slinkse wyses geld by niksvermoedende kliënte buit gemaak.
Volgens die polisie was die tellers se geliefkoosde manier van dinge doen om kliënte wat met ‘n debietkaart binne die bank geld onttrek se geld elektronies oor te plaas na ‘n ander rekening, sodra die kliënt sy kaart deurgetrek en sy pinnommer ingesleutel het.
Kliënte wat tjeks in die bank gewissel het, het ook onder die tellers se lang vingers deur ge-loop.
Volgens die polisie het die tellers gewoonlik enige iets van ‘n R1 000 tot kleiner bedrae te min uitbetaal.
ABSA Bank het vandeesweek by wyse van ‘n persverklaring bevestig dat die beskuldigdes wel werksaam was by ABSA en dat hulle “geskors is hangende die uitslag van ‘n volledige ondersoek.” Afhangende van wat die ondersoek aan die lig bring, sal ABSA besluit watter verdere dissiplinêre optrede geneem sal word, indien nodig.
ABSA het kliënte die versekering gegee dat hulle voortdurend besig is om veiligheidsmaatreëls op te skerp en te implementeer om ‘n veilige bank omgewing vir hulle kliënte te verseker.
Die vier is intussen op borg van ‘n R1 000 elk vrygelaat en moet weer op 4 Desember in die hof verskyn.

ADVERTISEMENT:
