ADVERTISEMENT:

 

‘n Lugfoto wys die ligging van Thohoyandou, die rioolplaas en die Nandonidam. Kommer neem toe dat rou rioolwater die Nandonidam bereik. Foto verskaf.

Rou riool in Nandoni wek groot kommer

 

News  Date: 27 November 2009

 

Vrese dat die onlangse vis- en krokodilvrektes in die Nandonidam toegeskryf kan word aan rioolbesoedeling in die dam is hokgeslaan met ‘n departementele verduideliking dat die diere in onwettige visnette versmoor het. Tog is daar steeds kommer oor die impak van rou riool wat na bewering in die dam stort.

Rioolwater loop vermoedelik vanaf die Thohoyandou rioolplaas in riviertjies in die dam in. Die rioolplaas funksioneer vir ’n geruime tyd nie ten volle nie.

Mnr. Moses Tshivambe, woordvoerder van die Vhembe Distriksmunisipaliteit, het op 5 November gesê dat konstruksie by die rioolplaas nog aan die gang is en voltooiing nader.

“Ons is nog besig om op te gradeer en die rioolplaas is nie soseer funksioneel nie. Daar is geen gevaar dat die water van die rioolplaas die Nandonidam kan besoedel nie, want die water word met chloor behandel,” het mnr. Tshivambe gesê

‘n Inwoner van Maniini, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê egter dat daar vir die afgelope drie maande stinkende water vanaf die rioolplaas inloop.

“Dis ‘n groot volume water wat op ‘n daaglikse basis inloop,” sê hy.

Rou rioolwater word vir besproeiing van groente soos ertjies, boontjies en tamaties gebruik met die oorloopwater daarvan wat in die rivier beland.

Daar is instansies wat besig is om waterkwaliteit by die Nandoni te toets, maar geen uitslae is beskikbaar nie.

Die Departement van Waterwese het in antwoord op ‘n medianavraag gesê dat uitslae nie beskikbaar is nie.

“Ons kan nie in hierdie stadium ontken of bevestig dat daar rioolbesoedeling is nie,” het die hoofdirekteur van Limpopo se Departement Waterwese, mnr. Alson Matukane, op 27 Oktober gesê. Dit was ná die dood van die krokodille en visse.

Tydens veldwerk het derdejaarstudente van die Departement Dierkunde van die Universiteit van Venda op pikswart, stinkende skuimwater afgekom wat van die nie-funksionerende rioolplaas direk na die Mvudirivier by Muledane loop. Die Mvudi loop in die Dzindi, wat inloop in die Nandonidam. Alge op ‘n klipplaat in die Mvudi het ook op verryking van die water aangedui.

“Die studente was hoogs verontwaardig ten aanskoue van die rou riool. Ons besef dit sal goeie bestuur kos om die rioolplaas aan die gang te kry. Dit is egter baie belangrik, want dit gaan oor ons gesamentlike welsyn en oor die omgewing,” het prof. Ben van der Waal van die Dierkunde Departement gesê.

Die Nandonidam is tussen Thohoyandou en Malumelele in die Levuburivier gebou en is een van die grootste damme in die Limpopo provinsie, met ‘n inhoudsmaat van 164 miljoen kubieke meter water. Die dam is gebou sodat gemeenskappe van Louis Trichardt, Thohoyandou en die landelike gemeenskappe van Malumelele en Lambani in die ooste tot Sinthumule/Kutama in die weste water kan ontvang. Pypleidings sal water vanaf die Nandonidam na Thohoyandou en die Albasinidam neem. Indien rou rioolwater in die Nandoni inloop, raak dit dus al die gemeenskappe wat uiteindelik water vanuit die Nandonidam sal ontvang.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines