ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Edward Gouveya, een van die inwoners van Kiekberg Woonstelle in Douthwaitstraat, staan bo-op die skeidingsmuur wat deur vloedwater omgestoot is ná Maandagoggend se donderstorm.

Reën bring geluk en ongeluk

 

News  Date: 04 December 2009

 

Terwyl baie inwoners van Louis Trichardt Maandag snoesig geslaap het, dankbaar vir die welkome reën, moes talle andere in die vroeë oggendure te midde van ‘n hewige reënstorm rondskarrel om hul wonings en besittings van oorstroming te probeer red.

Me. René Christie en mnr. Dilesh Mawjee van Kiekberg Woonstelle bo in Douthwaitstraat het Maandagoggend omstreeks 02:00 wakker geword van die donderstorm en besluit om by hul twee kleuters se kamer te gaan inloer. Alle slaap was vinnig vergete toe hulle nie op ‘n droë kamervloer getrap het nie, maar in water wat die kamer bykans enkeldiepte oorstroom het. Die reënwater het vanaf die grondpad agter die tronk afgestroom en hulle hele woonstel oorstroom.

Christie het besluit om die kinders uit die kamer te verwyder om seker te maak hulle is veilig. Sy het nog met die kinders in haar arms gestaan, toe sy skielik ‘n harde slag hoor.

Die water het reg deur hulle woonstel gestroom en in die proses die buitemuur tussen die woonstelle inmekaar laat tuimel.

Nog drie ander woonstelle is ook gedeeltelik oorstroom.

Nadat die paartjie eers hul kinders by Christie se ouers afgelaai het, het hul tot dagbreek toe gespartel om hulle besit-tings uit die water te probeer red.

“Ons het uiteindelik die woonstel droog gekry, maar ek sal al my gordyne, matte en my hele sitkamerstel moet vervang,” het Christie gesê.

Die inwoners van die ander woonstelle het ligter daarvan afgekom. Janine en Thinus Steyn, Christie en Mawjee se bure wat agter hulle woon, moes lelik bontstaan om die water in hulle sitkamer op te droog.

Ongeveer drie blokke verder het onderwysers en leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt dieselfde ervaring beleef.

‘n Deel van die seunskoshuis, asook van die onderwysers se woonstelle, het oor-stroom.

Die water het in die binnehof van die seunskoshuis opgedam, totdat dit naderhand soos ‘n dam gelyk het.

“Die water het by my woonstel ingespuit, deur een van die gaatjies wat geboor is vir elektroniese kabels,” het mnr. Brandy Harding vertel.

Die water het selfs van die vullisblikke saamgesleep, wat later aan die agterkant van die koshuis opgetel is.

Volgens Harding het die water by die onderste hokkieveld opgedam.

“Alles het blitsvinnig gebeur. Vandat dit begin reën het, skat ek dit het sowat ses minute gevat voordat die kamers begin oorstroom het,” sê hy.

Ten spyte van die skade wat deur die wolkbreuk aangerig is, is boere van die streek erg in hulle noppies met die goeie reën.

“Louis Trichardt het Maandagoggend tussen 100 en 120mm gemeet. Party boere het selfs soveel as 130mm en meer gemeet,” sê mev. Wiekie Nel van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (DLU) se kantoor.

Dele wes van die berg het weinig reën gekry, terwyl ander dele tot 100mm gemeet het.

Vivo het tussen 17 en 30mm gemeet.

Volgens die voorsitter van die Soutpansberg DLU, mnr. Stephen Hoffman, het die Levubu-omgewing vir Maandag en Dinsdag tussen 60 en 90mm gemeet.

“Dit het relatief sag gereën oor die naweek en vir die eerste keer in vyf-ses jaar het die boere weer hoop vir ‘n goeie oes,” het hy gesê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines