ADVERTISEMENT:

 

‘n Dik straal rou riool (links) spuit uit ‘n rioolmangat aangrensend tot die munisipale karavaanpark in Songozwistraat. Teen Woensdagoggend het derduisende liters rou riool reeds in die rivier wat deur die dorp se Groen Gordel loop, gespoel.

Rioolprobleme ruk hande uit na vloedwaters

 

News  Date: 04 December 2009

 

Inwoners is erg ontstoke oor die talle riooloorspoelings wat op Maandagoggend se swaar reënneerslae op Louis Trichardt gevolg het.

Rou riool het by verskeie punte die strate in gevloei, ondermeer ook in die rivier wat deur die dorp se Groen Gordel loop. Dit het bespiegelings laat opvlam dat die oorspoelings die gevolg is daarvan dat die munisipaliteit onwettig die dorp se rioolstelsel met die stormwaterstelsel verbind het om die kroniese rioolprobleme te probeer oplos.

Een inwoner, mnr. Jannie van Zyl, het Dinsdag van sy eie arbeiders gevat om al die stormwaterslote skoon te maak, nadat sy seun se huis in Erasmusstraat Maandag oorstroom het.

“Ek smeek nou al amper vyf jaar lank die munisipaliteit om die stormwaterslote te kom skoon maak,” sê ‘n ontstoke Van Zyl. “Die water veroorsaak groot skade vir mense, omdat dit nie weggevoer kan word nie.”

Motoriste wat deur die middedorp na Makhado Crossing wou ry, moes hul storie ken om deur die stroom water wat vanaf die woonwapark oor Songozwistraat gestroom het, te kom. Teen Woensdag het daar al ‘n redelike stank in die lug gehang, aangesien ‘n dik stroom rou riool ook daar sy weg gevind het tot in die rivier wat die dam by Bergwater Hotel voed en verder af dreineer in die rigting van die muni-sipale boorgate.

In nog ‘n geval het die druk van die riool ‘n swaar mangatdeksel in Hlangananistraat die lug ingeforseer en soos ‘n fontein die straat bespuit. Die stroom riool het mettertyd langs die N1 opgedam – sekerlik nie ‘n goeie advertensie vir die dorp nie.

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het Woensdag by navraag gesê dat daar absoluut geen waarheid in bespiegelings is dat hulle riool in die stormwaterstelsel kanaliseer nie. “Ons ken die wet en weet dit mag nie gebeur nie,” het Bobodi gesê.

Op ‘n vraag oor die oorsaak van die talle rioolprobleme na Maandag se reën, het Bobodi gesê hulle ondervind ‘n ernstige probleem met ‘n verstopte pyp naby die rioolpompstasie in Industriastraat. Die probleem is van so ‘n aard dat ‘n gedeelte van die pypleiding vervang moet word. Bobodi sê dat konstruksiewerk egter ernstig deur modder belemmer word en dat hul swaar masjinerie, wat die verstopte pyp moet oplig, telkens wegsak in die modder. Die vertraging veroorsaak dat die riool in die stelsel begin terugdam.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines