

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 December 2009
Buiten die gesamentlike dispuut wat die SBBV met die Makhado Munisipaliteit het, gaan belastingbetalers ook nou begin om persoonlike dispute aanhangig te maak.
Dit is een van die sake wat aangevoer is by die algemene jaarvergadering van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging op 26 November.
Dit het aan die lig gekom dat die munisipaliteit op 19 Januarie aan die hof sal moet verduidelik waarom die hofinterdik nie permanent moet word nie. Die SBBV het op 23 November ‘n tydelike interdik teen die munisipaliteit gekry, omdat krag van lede van die vereniging per geleentheid wederregtelik afgeskakel word. Ander munisipaliteite, waaronder Heilbron, Cullinan en Sannieshof, het permanente interdikte teen hul munisipaliteite verkry.
Dit is ook duidelik gestel dat ‘n spesiale kostebevel aangevra sal word teen die munisipaliteit, asook teen die munisipale bestuurder, die hoof finansiële beampte en die hoofde van die rekeninge- en elektrisiteitsdepartemente, elkeen in hulle persoonlike hoedanigheid. Spesialis advies in hierdie verband word verkry.
“Daar mag ‘n verrassing vir hulle wag in Januarie. Hulle behoort in die Kerstyd te begin spaar,” het die voorsitter van die SBBV, mnr. Frans Prinsloo, gesê.
Ná die interdik was dit vir die vereniging nodig om ‘n lasbrief te kry om die munisipaliteit te dwing om die krag aan te skakel. Sommige lede se krag is tien minute voor die verstryking van die tyd op die lasbrief, aangeskakel.
Mnr. Solly Maano van die Downtown’s Citizens Forum het gesê dat die mense wat van vooruitbetaalde krag gebruik maak, baie met die munisipaliteit sukkel. ‘n Hofinterdik teen diegene wat onregmatig weier om vooruitbetaalde krag te verkoop, is genoem.
Mnr. Maano het ook baie gekla oor die voortslepende probleem van rondloperbeeste wat op munisipale grond wei. Die munisipaliteit omhein nie hulle grond nie. Maano het verwys na die dood van mnr. Timothy Maanda, toe hy teen ‘n rondloperbees vasgery het en gesê dat hy ná die tragiese voorval weer tot 20 beeste op sy erf aangetref het.
“Intussen is ons steeds besig om brûe te bou met die munisipaliteit, maar om hulle aandag te behou, is sterk optrede noodsaaklik,” het Prinsloo gesê.
Die verdeling van die dorp in twee wyke het ook ter sprake gekom. Provinsiale raadslid van die DA mnr. Jacques Smalle, het gesê dat beswaarvorms onverwyld ingedien moet word. Volgens die wyksindeling, wat geringe veranderings toon, vorm Louis Trichardt wes van die N1 en Tshikota saam wyk 21. Wyk 20 bestaan uit Louis Trichardt oos van die N1 en ‘n verdere tien of elf villages. Raadslid Smalle het daarop gewys dat daar ongeveer 5 500 stemgeregtigdes per wyk moet wees.
Volgens Prinsloo kan die nuwe burgemeester, Raadslid Mavhungu Luruli, wel ‘n verskil maak.
“Daar is reeds R16m begroot vir die opgradering van rioolwerke, R5m vir pompstasies en R6m vir die stortingsterrein. In die vorige belastingjaar het hulle dit vir iets anders gebruik, maar in dié belastingjaar kan dit ‘n verskil maak as hulle dit korrek aanwend,” het Prinsloo gesê.
Die nuwe bestuur wat tydens die vergadering in die Ferdie Beyerssaal verkies is, bestaan uit lede en gekoöpteerde lede, mnre. Frans Prinsloo, Solly Maano, Herman Smith, Rakesh, André Prinsloo, Phillip Mosena, me. Musekene, Inga Gilfillan, Marie Helm, mnre. Dennis Gilbert, Calvin Nemavhandu, Chrisjan van der Berg, Stephen Hoffman en dr. Simon Nemutandani. Die portefeuljes sal tydens ‘n bestuursvergadering toegeken word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
