ADVERTISEMENT:

 

Kevin Chinyarada, een van mnr. Danie Pita se arbeiders, hou die gasbottel se kopstuk vas wat deur die dak van hulle werkswinkel geskiet het. Die ontploffing wat dié gasbottel Saterdag veroorsaak het, het inwoners laat kopkrap.

Ontploffing laat inwoners kopkrap

 

News  Date: 11 December 2009

 

‘n Ontploffing Saterdagmiddag in die industriële gebied van Louis Trichardt het letterlik ‘n opskudding veroorsaak.

Ongeveer 14:00, terwyl die dorp besig was om stadig maar seker stil te raak en meeste mense hulle naweek begin het, het ‘n groot ontploffing in Kortstraat feitlik almal in die omgewing tot stilstand geruk.

Inwoners het die slag van die ontploffing onder andere beskryf as ‘n “kitsbank wat ontplof het” en “nog ‘n meteoriet”.

Die slag is tot by Kockstraat, ‘n paar kilometer verder, gehoor. Sommige inwoners in Andersonstraat sê hulle het selfs die aarde voel bewe, terwyl andere dadelik gery het om te gaan ondersoek instel.

Mnr. Tobie van den Heever het vertel dat hulle die hele omgewing in Kortstraat gefynkam het vir die oorsaak van die ontploffing, maar dat hulle niks verdag opgemerk het nie.

Die soektog na die oorsaak van die ontploffing is gestaak en was teen Maandag al weer amper vergete, maar nie vir mnr. Danie Pita, ‘n sakeman onder in Kortstraat, nie. Hy het ‘n groot gat in die dak by sy sakeperseel opgemerk en eers gedink daar is oor die naweek by hom ingebreek. Hy het gou gekyk of daar iets vermis word, maar alles was in orde.

Groot was sy verbasing toe hulle soektog die oorblyfsels van ‘n groot gasbottel se kopstuk opgelewer het.

“Saterdag se ontploffing was toe al die tyd ‘n gasbottel wat ontplof het,” sê Danie.

Die oorsprong van die gasbottel was teen druktyd nog nie bekend nie.

“Ek dink net mens moet ondersoek instel, want as iemand naby daardie bottel was, is hy of dood of doof,” het een inwoner opgemerk.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines