

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 December 2009
‘n Afslaer van Louis Trichardt is verlede week ‘n stewige boete opgelê, omdat ‘n groot hoeveelheid van die beeste wat hy op veiling wou verkoop het, nie gebrandmerk was nie.
Lede van die polisie se veediefstaleenheid op Louis Trichardt het op 2 Desember die beesvei-ling van Karoo Ochse by die munisipale veilingskrale stopgesit en wou beslag lê op 48 beeste wat nie gebrandmerk was nie. Ingevolge die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002) word boere verplig om alle beeste, skape, bokke en varke te merk, hetsy deur hulle te brandmerk of te tatoeëer. Sou hulle versuim om dit te doen, kan hulle ‘n boete of tronkstraf, of selfs beide, opgelê word. Die doel van die wet is om die nasionale register vir diere-identifikasie te bestuur, wat sal dien as ‘n versterkte verdedigingslinie teen veediefstal, die identifisering van eiendom sal vergemaklik en opspoorbaarheid sal bevorder.
Afslaer mnr. Jan Loots het na die voorval sy ongelukkigheid uit-gespreek oor die polisie se optrede.
“Hulle kom sit hier op die veiling en terroriseer mense. Ek het die eienaars van die beeste en die beeste geken en sal nie stilbly as ek weet ‘n bees is gesteel nie. Ek het niks teen die beginsel van brandmerke nie, maar ek glo nie dat hulle veediefstal sal stop deur op veilings toe te slaan nie,” het Loots gesê.
Kort na die polisie se aankoms by die veilingskrale, het die eienaars van 24 van die 48 beeste, hoofsaaklik uit die omliggende woongebiede, hul beeste opgelaai en die veilingskrale verlaat. Loots sê hy is op sy beurt met ‘n R1 000 beboet vir elk van die oorblywende 24 beeste van ‘n bekende beesboer van die omgewing. Gelukkig vir hom het die hof later beslis dat hy nie nodig het om die boete te betaal nie.
Die voorval het weer die belangrikheid van die brandmerk van vee beklemtoon. In hierdie geval is nie net die afslaer sy kommissie kwyt nie, maar ook die verkopers ‘n inkomste. Slegs vier beeste is die dag verkoop.
Loots se ongelukkigheid is te verstane, maar tog is die wet baie duidelik as dit kom by die brandmerk van diere. Eerstens rus die onus op die eienaar om volgens wet die dier te brandmerk, maar wie se verantwoordelikheid word die dier as dit op veiling kom?
“Ongelukkig is die veebrandwet so geskryf dat as die boer die dier by die veilingskraal afgelaai het, gebrand of ongebrand, dan word die afslaer of die ou wat die dier in beheer het, die eienaar geag te wees. In effek kom dit daarop neer dat die afslaer ‘n boete kan ontvang,” was die reaksie van mnr. Johann Vosser, besturende direkteur van Vleissentraal Bosveld en een van die afslaers wat geskakel is om meer duidelikheid hieroor te gee.
Afslaers kan hulle egter teen vervolging en boetes beskerm deur net die nodige identifikasiedokumente vanaf die verkoper aan te vra wat sy diere na ‘n veiling bring.
“As die boer die dier kom aflewer, moet die boer aan die afslaer ‘n Artikel 6-dokument oorhandig,” het Vosser gesê. Dit is ‘n geskrewe dokument waarin die boer bevestig dat hy die diere vanaf sy plaas na die veilingskrale vervoer en dit moet die vervoerder van die diere vergesel. Hierdie dokument moet ondermeer beskik oor die boere se volle voorname en van, volledige adres, aantal diere, hoeveel manlik en vroulik is, hul ras en ‘n beskrywing van hul brandmerke. Die afslaer hou hierdie dokument in sy besit. As die diere klaar verkoop is, het Vosser verduidelik, gee die afslaer weer aan die volgende koper ‘n dokument wat aandui dat die diere vanaf die veilingskrale na die koper se adres vervoer word, weereens met ‘n aanduiding van soveel diere, hul ras, brandmerke, ensovoorts.
Kapt. Maano Sadike, plaaslike polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê Loots het ook ‘n R500 boete ontvang vir ‘n oortreding van die Wet op die Identifikasie van Diere. Hy het boere vermaan om te voldoen aan die die bepalings van die brandmerkwet en hulle uitgenooi om met hom te skakel indien hulle meer inligting hieroor verlang.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
