ADVERTISEMENT:

 

Aanvaller beweer nou man wou vrou laat vermoor

 

News  Date: 11 December 2009

 

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy twee jaar gelede die Erasmus-egpaar van Levubu aangeval het, het verlede week onder kruisverhoor aangevoer dat hy kwansuis deur mnr. Callie Erasmus gevra is om sy vrou, Petro, te vermoor.

Die saak teen die 33-jarige Levy Baloyi het verlede Maandag ‘n aanvang geneem in die landdroshof op Louis Trichardt. Baloyi is op 7 November 2007 aangekeer by die woning van die Erasmus-egpaar. Hy is deur die polisie in hegtenis geneem, nadat hy na bewering vir mnr. Erasmus probeer beroof het en ‘n worsteling tussen die twee mans ontstaan het.

Tydens die worsteling is mnr. Erasmus twee keer raakgeskiet deur Baloyi. Mev. Erasmus kon egter daarin slaag om haar man te hulp te snel en in die proses is Baloyi oorrompel en in die hand geskiet.

Buiten vir die poging tot moord klag op Erasmus, staar Baloyi ‘n verdere 10 ander klagte in die gesig. Hy staan ook tereg op agt klagte van diefstal met verswarende omstandighede, een klag van die besit van ‘n onwettige vuurwapen en een klag van die besit van onwettige ammunisie. Die klagte hou verband met ander geweldsmisdade wat onder meer in die Levubu-omgewing en omstreke gepleeg is.

Tydens sy hofverskyning verlede Maandag het Baloyi ontslag gevra op vyf van die diefstal klagte, die klagte van poging tot moord op Erasmus, asook die klagte vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen. Hy het onder kruisverhoor homself verontskuldig op die klag van poging tot moord deur aan te voer dat mnr. Erasmus hom kwansuis R10 000 aangebied het mev. Erasmus te vermoor.

Volgens Baloyi het daar ‘n bakleiery ontstaan toe mnr. Erasmus geweier het om die geld aan hom te betaal en dat Erasmus homself raakgeskiet het.

Baloyi se kruisverhoor is verlede Woensdag hervat, maar sy saak is uitgestel tot 20 Januarie wanneer sy kruisverhoor afgehandel sal word. Vonnisoplegging sal ook na verwagting dan plaasvind.

Intussen het mnr. Eramus gesê die aantyging dat hy glo Baloyi sou gevra het om sy vrou te vermoor is van alle waarheid ontbloot.

“Hy is belaglik. Ek kan nie glo die Staat kan hul tyd mors om na sulke onbenullighede te luister nie. Dit is absolute snert,” het mnr. Erasmus gesê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines