ADVERTISEMENT:

 

Bo: Die 29-jarige Johannes Antonnio Khoza van Mosambiek. Onder: Die 40-jarige Esho Chico Naibe van Zimbabwe.

Mensejag volg ontsnapping uit maksimum tronk

 

News  Date: 18 December 2009

 

‘n Massiewe mensejag is Dinsdagoggend geloods na twee hoogs gevaarlike geweldsmisdadigers wat uit die Kutama Sinthumule Maksimum Sekuriteitsgevangenis buite Louis Trichardt ontsnap het.

Die ontsnapping het ‘n einde gebring aan die gevangenis se geen-ontsnappingsrekord sedert dit op 1 Februarie 2002 geopen is. Dit plaas nou ‘n vraagteken oor die versekering wat voor die bou van die gevangenis aan inwoners van Louis Trichardt en omstreke gegee is dat niemand ooit daaruit sal ontsnap nie. Die gevangenis word op private grondslag, in vennootskap met die Departement van Korrektiewe Dienste, bedryf.

Die twee mans wat Dinsdagoggend daarin kon slaag om te ontsnap het duidelik hierdie versekering verkeerd bewys. Beide mans, die 40-jarige Esho Chico Naibe van Zimbabwe en die 29-jarige Johannes Antonnio Khoza van Mosambiek, het tot hul ontsnapping lewenslange vonnisse uitgedien. Naibe het sedert Augustus 2005 ‘n lewenslange vonnis uitgedien vir verkragting, huisbraak en onsedelike aanranding, terwyl Khoza sedert April 2006 ‘n lewenslange vonnis uitdien vir moord en roof met verswarende omstandighede.

Mnr. Manelisi Wolela van die Departement Korrektiewe Dienste se kommunikasieafdeling het ure na die ontsnapping ‘n verklaring uitgereik waarin hy sê dit wil voorkom asof die twee mans die tralies voor hul selvensters afgesaag het, waarna hulle klere gebruik het om oor die hoë sekuriteitsheinings buite die gevangenis te klim. Dit is onduidelik hoe geen van die bewaarders agtergekom het dat iemand besig was om oor die heinings te klim nie.

“Die Departement van Korrektiewe Dienste doen ‘n beroep op lede van die publiek om saam te werk met wetstoepassingsagentskappe in pogings om die ontsnaptes weer terug te kry in wettige aanhouding,” het Wolela gesê. Hy het egter die publiek gewaarsku om nie self die mans te probeer aankeer nie, aangesien hulle as uiters gevaarlik bestempel word.

“Die publiek moet eerder die SAPD se noodnommer 10111 of die hoof ondersoekbeampte in die saak, kaptein Sudiki by 082 565 8233 skakel,” het Wolela gesê.

Wolela het gesê dat Korrektiewe Dienste ‘n dringende ondersoek aangevra het na die omstandighede wat gelei het tot die twee misdadigers se ontsnapping. Afhangend van die bevindinge, kan die Departement boetes teen die gevangenis instel in lyn met die kontraktuele verpligtinge ten opsigte van hierdie privaat-beheerde gevangenis.

Wolela het gesê die boetes is daarop gemik om sekuriteitsbreuke te ontmoedig. Volgens onbevestigde inligting kan die boete in hierdie geval tot R2 miljoen beloop.

Die vorige keer wat die Kutama Sinthumule Maksimum Sekuriteitsgevangenis in die nuus was, was in Maart 2006 toe sowat ‘n 1 000 van die land se gevaarlikke prisoniers bewaarders oorrompel het en beheer oorgeneem het van een van die gevangenis se vier aanhoudingseenhede. Een gevangene is in die daaropvolgende vuurgeveg met bewaarders dood, terwyl talle ander beseer is. Talle bewaarders is ook in die proses beseer.

Wolela het Woensdagmiddag by navraag bevestig dat Naibe en Khazo nog steeds op vrye voet was.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines