ADVERTISEMENT:

 

Die afgebrande woonstel van Bianca Scannell en haar agtjarige dogter, Lianca.

Enkelma verloor alles in vlammehel

 

News  Date: 18 December 2009

 

‘n Enkelma en haar agtjarige dogtertjie van Louis Trichardt is hier kort voor Kersfees dakloos gelaat, nadat hulle woonstel en al hulle besittings in ‘n verwoestende brand vernietig is.

Bianca Scannell van Louis Trichardt is die skoolhoof by Murunwa Laerskool. Sy en haar dogter, Lianca, het onlangs in ‘n woonstel ingetrek in die Green Acre-kompleks in Kleynhansstraat en was nog besig om hulle voete te vind.

Toe kom die brand op Saterdagaand, 6 De-sember.

Bure het Bianca geskakel met die ontstel-lende nuus. Sy is dadelik terug na haar woonstel.

Met haar aankoms kon sy egter niks anders doen nie as om toe te kyk hoe alles waarvoor sy haar hele lewe lank gewerk het, deur die vlamme verswelg word.

“Ek en my dogter het nie eens ‘n tandeborsel oorgehad nie,” het ‘n erg-getraumatiseerde Bianca vandeesweek vertel.

Bure en omstanders het saam met lede van die Soutpansberg Dorpswag en brandweer gespook om te keer dat die brand na die aangrensende woonstelle versprei. Lianca het gelukkig vir die naweek by haar pa gaan kuier.

Buiten vir die skade wat Bianca nou uit eie sak sal moet betaal, aangesien sy ‘n maand tevore haar versekering moes kanselleer, het die ma-en-dogter paar ook verdere droefheid beleef.

Lianca se geliefde woef, Tienkie, kon nie uit die woonstel kom nie en het saam met haar twee hamsters doodgebrand. Die gesin se kat het wonderbaarlik ontsnap, maar moes vir rookinaseming behandel word.

“Sy [Lianca] verwerk dit moeilik,” sê Scannell

“Ons het die hondjie vir haar as maatjie gekry na my en my man se egskeiding,” het ‘n emosionele Bianca vertel.

Met Kersfees om die draai het Bianca en Lianca vir eers tydelik by haar ouers ingetrek, terwyl die woonstel herstel word.

“Die woonstel het gelukkig versekering en die eienaar het gesê ons kan weer daar gaan bly. Vir eers wil ek nie daar kom nie - dit is te traumaties,” sê Bianca.

Ten spyte van die moeilike tyd wat Bianca en Lianca tans beleef, was dit vir hulle baie bemoedigend om te sien hoe die gemeenskap hulle ondersteun en hulle harte oopgemaak het.

“Mense het vir ons klere en toiletware gebring. Een oom het selfs vir my en Lianca twee enkelbedjies kom aflaai. Soos wat die mense gehoor het van ons krisis het hulle net hulle harte oopgemaak,” sê Bianca.

Kapt. Maano Sadike, plaaslike polisiewoordvoerder, het by navraag gesê dat ‘n man ná die brand op klagte van brandstigting aangekeer is. Die man is egter vrygelaat, ná sy hofverskyning en die saak teen hom is tydelik teruggetrek, hangende verdere forensiese ondersoek.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines