ADVERTISEMENT:

 

Vrou oorleef plaasaanval by plaaswoning

 

News  Date: 24 December 2009

 

Was dit nie vir ‘n vrou se koelkop optrede die afgelope naweek nie, sou sy heel waarskynlik deel geword het van die land se moordstatistiek ten opsigte van plaasaanvalle.

‘n Middeljarige vrou het ‘n nagmerrie ondervinding beleef toe ‘n gewapende man haar Vrydagaand by haar huis aangeval en gevange gehou het. Die vrou, wat nie in hierdie stadium geïdentifiseer wil word nie uit vrees vir verdere intimidasie, is buite haar huis oorrompel deur ‘n gemaskerde man. Sy huur ‘n huis op ‘n plaas naby die Witvlag-pad.

Die rower het om ongeveer 18:00 die vrou genader, terwyl sy besig was om inkopie pakkies in haar huis in te dra. Sy was ten tye van die voorval alleen op die plaas.

Die rower het op die vrou geskreeu en haar met die agterkant van sy pistool deur die gesig geslaan, toe sy hom vra wat hy daar soek. Hierna het hy haar in die huis ingedwing en haar hande hardhandig met ‘n dik ketting en slot vasgemaak.

Die rower het daarna die vrou se huis geplunder, op soek na kontant. Gelukkig het die vrou kalm gebly en kop gehou en sy kon daarin slaag om haar hande uit die ketting los te wikkel.

Sy het op die vlug geslaan en het sowat ‘n kilometer ver gehardloop na haar bure.

Volgens die vrou se buurman was die vrou heeltemal verwese en kon sy net die woorde “man met ‘n pistool het my aangehou” uitkry.

Die buurman het dadelik die plaaswag geaktiveer en die polisie se hulp ingeroep, maar die rower het reeds ontsnap met ‘n groot bedrag kontant. Selfs nadat die polisie se honde-eenheid die area om die huis gefynkam het, kon geen spoor van die man gekry word nie.

Die vermoede bestaan egter dat die rower, hoewel hy gemasker was, werksaam was vir die plaaseienaar. Volgens die eienaar is al die buiteligte afgeskakel voor die aanval, wat daarop dui dat die aanvaller die perseel geken het. Die verdagte het ook vroeër die dag met die eienaar se vrou in ‘n woordewisseling betrokke geraak aangaande sy salaris. Hy het haar gedreig en gesê: “I’ll come for you!”

Die eienaar het vertel dat hulle die betrokke dag net klaar hul werkers se lone betaal het en toe vertrek het na Rustenburg om hulle kinders te gaan haal.

“Ons was nie eers behoorlik by die tolhek verby nie, toe die oproep kom van die aanval.”

Volgens die eienaar het die polisie en plaaswag op ‘n plastiek sak afgekom, wat die verdagte se klere, ‘n kan petrol en ‘n mes bevat het. Die betrokke verdagte het Maandag die eienaar geskakel en hom weer gedreig.

“Hy het vir my gesê hy is in die dorp en wil my kom sien want ons het unfinished business,” het die eienaar gesê.

Die polisie het die voorval bevestig en gesê dat daar ‘n klagte van huisbraak ondersoek word. Volgens kapt. Maano Sadike werk die polisie onverpoosd om die verdagte aan te keer en dat alle leidrade opgevolg word.

“Ons verwag dat daar binnekort ‘n arrestasie gemaak sal word,” sê hy.

 

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines