

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 December 2009
‘n Boer van die Vivo-omgewing het hom Maandagaand voor sy vrou en twee dogters doodgebloei in nog ‘n barbaarse plaasaanval.
Mnr. Pieter Snyman, plaasvoorman op die plaas Balmoral, was saam met een van sy dogters buite die plaaswoning, terwyl sy vrou en hul ander dogter binne die huis was. Dit was nog nie donker nie, dus was die huisdeure nog nie gesluit nie.
Omstreeks 19:00 het vier mans eers Snyman se vrou en hul jongste dogter in die huis oorval. Die mans, gewapen met messe, het die twee se hande en voete vasgebind en in die badkamer gelos. Daarna het hulle Snyman en sy ander dogter gaan inwag.
Met Snyman se aankoms by die huis, is ook hy en sy ander dogter oorrompel. Terwyl die booswigte besig was om hom en sy dogter vas te bind, het hulle vir geen rede Snyman in die bors gesteek. Hy en sy dogter is daarna ook badkamer toe geneem, waar die twee kinders en Snyman se vrou moes toekyk hoe hy sterf, sonder dat hulle iets vir hom kon doen.
Die vier aanvallers het hierna heel rustig die hele huis letterlik omgekeer op soek na iets om te steel. Nadat hulle die huis verlaat het, het hulle die plaaseienaars se Toyota-bakkie gesteel en gevlug. Die bakkie is later dieselfde aand naby Seshego buite Polokwane verlate gevind. Voorlopig word slegs ‘n televisie, radio, twee skootrekenaars en selfone vermis.
Provinsiale polisiewoordvoerder supt. Ronel Otto het Dinsdag by navraag bevestig dat nog niemand in verband met die voorval aangekeer is nie. Die polisie volg egter elke moontlike leidraad op om die verdagtes aan te keer.
Persone vanuit alle oorde het met groot skok op die jongste plaasmoord reageer, veral hier kort voor Kersfees.
Mnr. Japie van der Goot, voorsitter van die Bobrak Boerevereniging, het ná die voorval sy medelye uitgespreek teenoor die Snyman-gesin. Hy het ook die gemeenskap van Vivo en lede van die georganiseerde landbou bedank vir hulle samewerking en die hoop uitgespreek dat die vier verdagtes binnekort aangekeer sal word.

ADVERTISEMENT:
