

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 December 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die jaar 2003 sal op geestelike front onthou word as die jaar waarin leiers van Christelike kerke begin saambid het. 'n Groot geestelike deurbraak word in 2004 verwag.
In Februarie vanjaar het verskeie leraars begin om Woensdagoggende saam te bid. Teen November het die groepie aangegroei tot gemiddeld 14 op 'n keer.
"Dit gaan nie net oor 'n biduur nie, maar ook oor die gemeenskap van die gelowiges. Daarom het ons die begintyd vervroeg na 08:30, so baie het ons om oor te gesels," sê dr. Philip Venter, by wie se huis die byeenkomste plaasvind. Dr. Venter sê dat pogings wat tevore aangewend is om leraars vanuit verskillende kerktradisies saam te snoer, gekom en gegaan het.
"Hierdie gesamentlike eenheid is werklik geskiedkundig. Hier is verteenwoordiging vanuit die gereformeerde-, charismatiese en pinkstertradisies." Daar word nie na verskille gekyk nie, maar na die basiese kernwaarhede waaroor saamgestem word. Die samekomste word as baie verrykend beleef.
"Daar is baie meer dinge wat ons in Christus saambind," sê ds. Dawid Serfontein.
Die groep geestelike leiers kyk waar hulle dinge kan saamdoen. 'n Gesamentlike verootmoedigingsdag is op 10 Oktober by die Volle Evangeliekerk gehou. Daarna is 'n gesamentlike verklaring uitgereik om hul misnoeë teen misdaad te kenne te gee, asook om mense te bemoedig om kalm te bly en nie reg in eie hande te neem nie. 'n Gesamentlike Geloftediens word beplan vir 16 Desember om 09:00 by die Gereformeerde kerk.
Die groep leiers gaan volgende jaar saam na maatskaplike probleme kyk, soos HIV/Vigs, asook die probleem van straatkinders. Hulle wil 'n groter rol as leiers in die gemeenskap vertolk.
"Ons kyk wat die Here wil hê ons moet doen. Die Here is besig om 'n fondasie te lê vir groot dinge wat kom," sê dr. Venter.
"Ek glo regtig dat hierdie begin geskiedkundig is en 'n impak sal maak op die dorp. So kan ons die gemeenskap vir Christus wen," sê pastoor Sampie Cronjé.
Pastoor Chris Mattheus sê dat die tyd aangebreek het dat geestelike leiers van die dorp saam die koninkryk van God uitbrei.
"Die feit dat ons mekaar kan erken as broers in Christus en kan saamwerk is wonderlik. Ons verwag 'n groot deurbraak in 2004," sê past. Mattheus.

ADVERTISEMENT:
