ADVERTISEMENT:

 

Hierdie passasiersbus het Vrydag (18de) deur die draadheining naby die afdraai na LMB Makhado gebars, nadat die bestuurder beheer oor die bus verloor het. Talle passasiers in die bus moes mediese behandeling op die toneel ontvang vir ligte skrape en snye. Foto verskaf.

Ongelukke op streek se paaie eis lewe

 

News  Date: 24 December 2009

 

Ongelukke op die streek se paaie het sedert verlede Vrydag die lewe van een persoon geëis, terwyl talle in die hospitaal opgeëindig het.

In een van die ongelukke het ‘n groot passasiersbus deur die draadheining by die Makhado LMB-afdraai gebars.

Die voorval het verlede Vrydag plaasgevind, nadat die bestuurder van die bus eers by Bandelierkop gestop het om verstellings aan die bus se ratkas te maak.

Met al die passasiers nog in die bus, het die bestuurder die bus gaan toetsbestuur, toe die bus weer onklaar geraak het. Die bestuurder het beheer oor die bus verloor en deur die heining gebars waarna dit etlike meters ver in die veld tot stilstand geskuur het. Van die passasiers moes na die provinsiale hospitaal vervoer word vir mediese behandeling.

In nog ‘n voorval dieselfde dag, op die N1-suid sowat 10km uit die dorp, het ‘n groot vragmotor omgeslaan.

Die bestuurder het in ‘n noordelike rigting gereis toe hy beheer verloor het oor die vragmotor. Nadat die vragmotor van die pad af is, het dit deur ‘n veiligheidsreling gebars en op sy sykant te lande gekom. Etlike duisende rande se skade is aan die vragmotor se vrag aangerig, wat motorfietse en parte ingesluit het. Niemand is in die voorval beseer nie.

Die grootste van die ongelukke het Saterdagaand (19de) plaasgevind op die hoek van Songozwi- en Presidentstraat in Louis Trichardt. Twee voertuie het in ‘n oostelike rigting gery in Songozwistraat, toe een van die voertuie skielik ‘n U-draai gemaak het en gebots het met die tweede voertuig.

‘n Vier-en-twintig-jarige passasier is op die toneel oorlede. Beide bestuurders was ongedeerd, terwyl nog twee ander passasiers ligte beserings opgedoen het en op die toneel behandel is. Polisie op die ongelukstoneel het die bestuurders in hegtenis geneem op ‘n klagte van roekelose en nalatige bestuur. Altwee bestuurders is op borgtog van R500 elk vrygelaat en gewaarsku om weer in die hof te verskyn.

 

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines