ADVERTISEMENT:

 

Hy sal onthou word vir sy Christenskap

 

News  Date: 24 December 2009

 

Oom Pieter Johannes Oberholzer, ‘n bekende oud-inwoner van Louis Trichardt, is Saterdag, 5 Desember, in die ouderdom van 89 oorlede.

Oom Pieter is gebore op 14 Augustus 1920 op die plaas Tromp, wes van Louis Trichardt, en voltooi sy skoolloopbaan aan Happy Rest. Na vele jare se omswerwinge het Oom Pieter homself weer in Louis Trichardt gevestig in Desember 1974.

Aan die einde van 1998 verhuis hy en sy vrou, Tannie Melody, na Mosselbaai om daar te gaan aftree. Van aftrede was daar egter nie sprake nie en was Oom Pieter aktief betrokke in die gemeenskap en by die kerk in Mosselbaai.

Sy familie sal hom onthou vir sy Christenskap. Hy het ten volle gelewe en tyd gemaak om vir almal van sy God en Vader te vertel.

Saam met Tannie Melody het hy sy groot liefde vir tuinmaak uitgeleef. Hy was veral lief vir orgideë gewees. Oom Pieter het ook graag geskilder en sy laaste skildery voltooi die oggend van sy afsterwe.

“Dit het die God van hemel en aarde behaag om hom te kom haal na sy ewige hemelwoning. Ons sal Pappa mis. Sy skielike heengaan laat ‘n groot leemte in ons lewens. Ons het egter berusting in die wete dat hy by ons Hemelse Vader rus,” is die boodskap van die familie.

Tannie Melody, sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders het hulle opregte dank uitgespreek teenoor almal vir hulle gebede, boodskappies en telefoonoproepe.

 

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines