

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 January 2010
Onderskeidings vir 2009 se Graad 12 kandidate is ’n veel skaarser verskynsel as die vorige jaar. Hoërskool Louis Trichardt se matrieks het ’n totaal van 80 onderskeidings opgelewer, teenoor verlede jaar se 206 onderskeidings.
Triegies se toppresteerders is Nina Linde met sewe onderskeidings, Mulalo Mamburu met sewe en Nato Loock met ses onderskeidings.
Nina, verlede jaar se hoofdogter en Triegie-van-die-Jaar, se sewe A’s behaal sy in Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Wiskunde, Geografie, Toerisme, Rekeningkunde en Lewensoriëntering. “Ek het skoon trane gekry toe ek die uitslae kry. Wiskunde en Rekeningkunde was vir my ‘n groot verrassing,” sê Nina. Haar geheim is dat sy deur die jaar konstant gewerk het en ook baie hard geleer het in die eksamen. “Vir die eindeksamen het ek reg voorberei en vraestelle en somme uitgewerk. My raad is: swot hard en moet nooit opgee nie. Ek was al naby aan opgee, maar byt vas en moet nooit in jouself of die krag van die Here twyfel nie!”
Nina het alreeds vertrek na Potchefstroom waar sy BA Kommunikasiekunde aan die Universiteit van Noordwes gaan studeer. Sy sal mettertyd besluit of sy ook ‘n onderwysdiploma gaan doen. Nina sien uit daarna om baie betrokke te wees by die universiteit se sport en kultuur. Sy wil ook graag vir die Gereformeeerde Kerk se tienertydskrif, Kruispad, bydraes lewer.
Onderhoofdogter vir kultuur Mulalo verwerf A’s in Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Wiskunde, Wiskunde 3, Besigheidstudies, Rekeningkunde, Lewenswetenskap en Lewensoriëntering. Mulalo was in graad 11 Duitsland toe as wenner van die Rojac redenaarskompetisie. Sy gaan weer haar vlerke sprei en vlieg op haar negentiende verjaarsdag, 24 Januarie, na Kaapstad om haar aan die Universiteit van Kaapstad te bekwaam vir ‘n geöktrooieerde rekenmeester. “Ek gaan Kaap toe, want die beste universiteit is daar! Ek hou ook van die gemeenskap daar; dit pas meer by my persoonlikheid,” sê Mulalo. Sy verklap een van haar studiegeheime, naamlik om seker te maak dat sy elke hoofstuk verstaan. “Vir Wiskunde en Rekeningkunde is my raad: doen soveel as wat jy kan!” sê Mulalo.
Hoofseun Nato Loock behaal onderskeidings in Afrikaans Huistaal, Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskap, Ingenieursgrafika en Ontwerp en Lewensoriëntering. Nato beskryf sy gevoelens toe hy die tweedelaaste koerant in die winkel oopmaak en sy ses onderskeidings sien. “Ek was baie bly en opgewonde. Dit was ‘n groot verrassing, veral die Afrikaans!” Balans is vir Nato baie belangrik. “Jy moenie 24/7 voor die boeke sit nie; jy moet ook sport en sosiaal doen. Ek leer so 20 minute lank en dan vat ek ‘n breek. Maar jy moet weet wanneer dit tyd is om te leer en wanneer dit tyd is om te speel,” sê Nato, wat Meganiese Ingenieurswese aan die Universiteit van Noordwes in Potchefstroom gaan studeer.
Vier onderskeidings elk word deur Nadine Smal en Mulanga Sinyosi behaal. Nadine, wat eersdaags VSA toe vertrek om vir ‘n jaar te gaan Au Pair, se onderskeidings is in Afrikaans Huistaal, Wiskundige Geletterdheid, Gasvryheidstudies en Lewensoriëntering. Na ‘n jaar in die buiteland wil Nadine haar graag voorberei vir ‘n loopbaan in kommunikasie of onderwys.
Mulanga behaal haar onderskeidings in Tshivenda Huistaal, Wiskunde, Lewenswetenskap en Lewensoriëntering. Mulanga gaan Aktuariële Wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad studeer.
Marette Louw, Grace Oke, Ajith Punnen, Mufarisi Manyuha en Ndivho Nephawe behaal elk drie onderskeidings.
Die kandidate wat elk twee onderskeidings behaal, is Merise Botha, Christiaan de Wet, Anke Hermsen, Coreen Luies, Chavonne Martin, Simoné van Tonder, Karabo Maagi, Rinae NnDuvheni, Mercy Oke en Moloko Rapholo. Moloko was ‘n “ongelukkige” kandidaat wat vir drie vakke 79 behaal het! Sewentien kandidate behaal een onderskeiding elk.
Buiten die skool se 80 A-simbole, is daar 209 B-simbole en 283 C-simbole. Veertien van die B-simbole is 79%. Geen kondonering vir onderskeidingspunte is toegepas nie, wel vir slaagpunte.
“Die skool behaal ongelukkig nie ’n 100% slaagsyfer nie, ’n duidelike bewys dat deurlopende harde werk en getroue skoolbywoning steeds ’n voorvereiste bly om graad 12 in enige stelsel te slaag,” sê die skoolhoof, mnr. Henry Denner. Hy wens die top leerders wat die puik uitslae behaal het, baie geluk. “Die skool is eweneens trots op die personeel wat te midde van voortdurende veranderinge in die stelsel steeds oor die toewyding beskik om leerders voor te berei om te presteer,” sê Denner.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
