

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 January 2010
Groot kommer het die afgelope Kersvakansie onder sakelui van Musina geheers, nadat dit aan die lig gekom het dat vervalste R100-note in die omgewing die rondte begin doen het.
Wat egter die note besonders maak is dat dit sonder die hulp van ‘n ultravioletlig uiters moeilik is om met die blote oog vas te stel of die noot vervals is.
Een sakeman van Musina, mnr. Carel Breytenbach, het vandeesweek vertel dat die vermoede bestaan dat die vervalste note vanaf Zimbawe afkomstig is.
Volgens Breytenbach het een van sy gereelde kliënte aankope van ongeveer R4 000 gemaak en kontant daarvoor betaal. Breytenbach het eers agtergekom dat die geld vervals is nadat hulle die dag se geld wou deponeer. Die bankteller het agtergekom dat twee van Breytenbach se R100-note vervals was.
Breytenbach se bank het by navraag die voorval bevestig.
Omdat dit ‘n klein bedrag is wat betrokke is en die Breytenbachs toevallig in besit gekom het van die vervalste geldnote, het die bank nie die saak by die polisie aangemeld nie.
Volgens die bank se bestuurder sal daar eers ‘n saak by die polisie aangemeld word indien daar ‘n sterk vermoede bestaan dat ‘n persoon handel dryf met groot hoeveelhede vervalste note.
Breytenbach het die geldnote beskryf as splinternuut, gedruk op gewone papier met selfs ‘n watermerk wat op die note aangebring is.
“Onder gewone omstandighede kan selfs die geoefende oog geflous word. Die feit dat die noot op dikker papier gedruk word, mislei mense sodat hulle dink dit is ‘n nuwe noot,” het hy gesê.
Al aksie wat die bank kon neem, was om twee gaatjies in die note aan te bring en mnr. Breytenbach moes maar noodgedwonge die geld afskryf.
Volgens Breytenbach is hy bewus van nog ander inwoners wat dieselfde ervaring gehad het het.
Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se webtuiste dui aan dat die verlies van inkomste weens vervalste geld ‘n groot agterstand kan beteken vir ‘n privaat verbruiker of klein besigheid.
Daar word sterk aanbeveel dat kleinhandelaars ‘n ultravioletlig aanskaf om toekomstige verliese te voorkom.
‘n Verdere aanbeveling is dat verbruikers altyd ‘n gewoonte daarvan moet maak om die veiligheidskenmerke van note na te gaan.
Luidens die webbladsy maak ‘n ware noot ‘n kenmerkende kraakgeluid as dit hanteer word weens die spesiale katoenbasis van die papier waarop dit gedruk word.
‘n Egte noot sal ook ophelder as dit onder ‘n ultravioletlig gehou word.
Intussen het die Musina polisiewoordvoerder, konst. Sydney Ringani, gesê dat polisie eers die voorvalle kan ondersoek indien daar ‘n saak geopen word.

ADVERTISEMENT:
