

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 December 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Plaaslike komponis Marius de Bruin se opera, Mara, word eersdaags in Los Angeles op die planke gebring.
Mara is die tweede opera uit die pen van Marius de Bruin, wat sedert die begin van die jaar aan die hoof staan van die musieksentrum van Hoërskool Louis Trichardt.
Nadat Mara sy wêreldpremier in November 2001 in die Stadsaal van Pretoria gehad het, is hierdie Afrikaanse opera se libretto in Engels vertaal. Onderhandelinge het plaasgevind om die opera in die VSA aan te bied, wat gekulmineer het in die voorgenome opvoerings van die opera in Los Angeles gedurende Desember vanjaar en Januarie 2004. Daar sal van Amerikaanse soliste gebruik gemaak word.
In teenstelling met die Suid-Afrikaanse aanbieding van Mara in Pretoria, wat met orrelbegeleiding op die vier-manuaal orrel van die Stadsaal geskied het, word die opera in Los Angeles deur 'n volle orkes begelei. Die volledige orkestrasie is ook deur de Bruin gedoen.
Mara is 'n opera in vier bedrywe. Die verhaal handel oor Mara, 'n slavin en byvrou van Herodus Antipas, haar bekering en die dood van Herodus Antipas wat homself as 'n god begin sien het. Johannes die Doper speel ook 'n groot rol in die opera. Die verhaal is fiktief, maar speel af teen 'n Bybelse agtergrond ten tye van Jesus se leeftyd op aarde.
Hierdie opera, of musiekdrama, duur vier ure en is waarskynlik die langste Suid-Afrikaanse opera. De Bruin maak gebruik van die eklektiese styl, waar al die verskillende style, soos barok, klassiek, romanties en modern in een werk geïnkorporeer word vir voller uitdrukkingsvermoë.
Marius vertrek eersdaags na die VSA om die openingsaand van Mara in Los Angeles op 15 Desember by te woon.
"Baie Suid-Afrikaanse werke word in Los Angeles opgevoer. Dit is opmerklik dat ook wat die ernstiger musiek betref, Suid-Afrikaners se werk daar baie hoog aangeskryf word," sê Marius.

ADVERTISEMENT:
