

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 January 2010
Vreugdevure het hoog gebrand by die Zoutpansberg CVO-skool en die skool het die nuwe skooljaar op ‘n hoë noot begin.
Nie net spog die skool met ‘n 100% matriek slaagsyfer nie – die hele skool het ook verlede jaar ‘n 100% slaagsyfer gehad. Daarbenewens het die skool pas ‘n nuwe hoof gekry wat sowat twee maande gelede aangestel is. Hy is mnr. Boet Groenewald, wat saam met sy vrou, Ricky, diens aanvaar het by die skool.
Mnr. Groenewald het baie jare ondervinding in die onderwys, waarvan hy al die laaste 28 jaar as skoolhoof by verskeie skole gewerk het. Na mnr. Groenewald se aftrede het hy en sy vrou hulle gevestig op hulle plasie in die Vivo-distrik. Hier het die CVO-skool op Vivo mnr. Groenewald se hulp gevra en het hy vir sewe jaar lank daar gedien as skoolhoof. Hy het ook Wiskunde as vak aangebied.
Mnr. Groenewald is hierna deur die Beweging vir Christelike Onderwys (BCVO) se hoofkantoor genader en hy het opgetree as die hoof onderrigkoördineerder.
Hy het voorts ook die pos beklee as die uitvoerende hoof van die BCVO en die Onafhanklike Afrikaanse Eksamineringsraad (OAER). Die lewe op die platteland het egter geroep en mnr. Groenwald het toe besluit om die pos as skoolhoof by Zoutpansberg CVO-skool te aanvaar.
Die skool het mnr. Groenewald en sy vrou hartlik verwelkom op die eerste dag van die nuwe skooljaar. Mev. Groenewald is self ‘n onderwyseres. Voordat sy begin onderwys gee het, was sy vir 19 jaar lank werksaam as die hoof van die Belastinghof van die Suid-Afrikaanse Belastingdiens.
Sy sal nou ekonomiese bestuurswetenskappe en natuurwetenskappe vir graad 5, 6 en 7 aanbied by die skool.

ADVERTISEMENT:
