ADVERTISEMENT:

 

Wyle me. Marie Leonard (79).

Tannie Marie Leonard oorlede

 

News  Date: 15 January 2010

 

Die bekende en beminde tannie Marie Leonard is op 7 Januarie in die Krugersdorp Hospitaal oorlede aan nierversaking. Tannie Marie sou vanjaar 80 geword het.

Marie was ’n geliefde en gerespekteerde vriendin wat ’n groot invloed gehad het op almal wat haar geken het. Sy was baie betrokke in die Louis Trichardt gemeenskap, die kerk en die plaaslike rolbalklub. Tannie Marie sal veral onthou word vir haar hartstogtelike liefde vir tuinmaak. Haar trots en lewe was rare versamelplante. Selfs na haar beroerte in 2003 kon sy steeds, met behulp van arbeid, ’n spogtuin aan die gang hou.

Marie is op 21 Oktober 1930 in Vereeniging gebore. In 1954 is Marie, ’n nooi Prinsloo, met Piet Leonard in die huwelik bevestig. Beide die Prinsloo- en Leonardgesinne was bekende boerefamilies in die omgewing . Piet en Marie het hulle in 1984 op die plaas Mowcop gaan vestig, waar oom Piet tannie Marie in 1994 ontval het. Sewe jaar later het tannie Marie haar in die dorp kom vestig waar sy ook bekendheid verwerf het vir haar lekker gebak, veral haar reuse boerbeskuite wat in die mond gesmelt het.

“My ma het voluit geleef. Sy was altyd ’n bok vir sports. Sy het perdgery en visgevang en goed gedoen wat ander se ma’s nie doen nie. Sy is nie een wat ooit gekla het nie,” sê haar seun, Pieter Leonard, by wie tannie Marie vir baie jare gebly het. Die laaste nege maande het tannie Marie by haar dogter, Judy, in Krugersdorp gewoon. Die kleinkinders onthou ouma Marie as vrolik en baie reguit. “Ouma kon sien wat dink die voëls en die honde.” Sy was ook lief vir deftig aantrek, rooi lipstiffie en lekker parfuum. Die familie sal die laataand kuier om die kombuistafel en ouma Marie se stories en staaltjies altyd onthou. “Dit was ’n gesamentlike eienskap van ouma Marie en oupa Piet: hulle was storievertellers. Sommige stories was bittersoet en ander hartseer-mooi. En nou sit ons alleen sonder julle om dieselfde houttafel. Ons is dankbaar dat jy ons ouma was en dat ons kon deel in ouma en oupa se mooiste storie, hoe ’n goeie span julle was, julle fantastiese reis ... en dat julle nou weer saam is ...Wanneer ons mekaar weer ontmoet is dit in die ewige heerlikheid waar daar geen skeiding sal wees nie,” sê die familie.

Marie laat haar kinders, Pieter en Christel Leonard en Judy en Tjaart Kruger agter, asook vier kleindogters en een kleinseun. Hulle is Marietjie Leonard (13), Gerda Leonard (16), Leandra Kruger (21), Jako Kruger (25) en Marina, wat getroud is met André Fourie.

Die dankdiens vir Marie Leonard se lewe word om 10:30 op Vrydag, 15 Januarie, in die NG Kerk Soutpansberg gemeente deur dr. Philip Venter waargeneem.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines