ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Basil Haigh Thompson (93). Foto verskaf.

Pionier van streek se motorbedryf sterf

 

News  Date: 15 January 2010

 

Een van die pioniers van die motorindustrie in die Soutpansberg, die 93-jarige Basil Haigh Thompson, is op Donderdag, 31 Desember oorlede.

Mnr. Basil Thompson is in die hospitaal opgeneem nadat hy geval het en sy been gebreek het. Hy het ‘n operasie aan die been ondergaan. Sy toestand het egter ná die operasie versleg en hy is later diselfde dag oorlede.

Mnr. Thompson is op 29 Augustus 1916 in Louis Trichardt gebore en het sy laerskoolloopbaan hier begin.

Daarna het hy sy hoërskoolloopbaan by Pretoria Boys High voltooi, waarna hy homself as ‘n motorwerktuigkundige by die destydse Pretoria Technikon gekwalifiseer het.

Op Louis Trichardt het almal vir Oom Basil geken as die bestuurder van die plaaslike Volkswagen-agentskap, Thompson’s Garage.

“Baie mense vertel nog hoe hulle die ou Beetle-karretjies vir 500 pond gekoop het,” het een van Oom Basil se seuns, Peter Thompson, vandeesweek vertel.

Voor hy Thompson’s Garage begin het, het oom Basil by die Ford-agentskap (destyds bekend as Northern Motors) gewerk. Hy het hierna Louis Trichardt Motors in venootskap met mnr. Blackwell begin.

In 1942 is Oom Basil met sy eerste vrou, mev. Lona Otto, getroud en vier kinders, Merle, Peter, Audrey en Kevin is uit die huwelik gebore.

In sy jonger dae was oom Basil in Egipte as ‘n inginieur gestasioneer tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Oom Basil was ook bekend vir sy betrokkenheid by die MOTHs (Memorable Order of Tin Hats) en die Vrymesselaars se tak in Louis Trichardt.

Mnr. Brian Kruger het vandeesweek namens die MOTHs hul innige meegevoel aan Oom Basil se familie oorgedra.

“Hy was een van ons laaste twee stigterslede van die Turbi Hills Shellhole. Ons sal Basil altyd onthou met die sonsondergang,” het hy gesê.

Oom Basil is op Donderdag, 7 Januarie vanuit die Methodiste Kerk in Louis Trichardt begrawe. Hy word oorleef deur sy tweede vrou, Baby Thompson, sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines