ADVERTISEMENT:

 

Dorp se naam weer in gedrang

 

News  Date: 22 January 2010

 

Die tweede aansoek om die naam van die dorp Louis Trichardt na Makhado te verander, is verlede week deur die nasionale Geografiese Naamsraad (SAGNR) bespreek.

Die Makhado Munisipaliteit het die aansoek gerig en die provinsiale komitee van die naamsraad het in November verlede jaar die aanbeveling gemaak dat die dorp se naam verander na Makhado, met Tshirululuni as tweede keuse. Die Voorsittersvereniging het weereens beswaar aangeteken.

Die eerste poging om Louis Trichardt ‘n ander naam te gee, het volgens beswaardes ontaard in ‘n stoomrollerproses waarin voldoende konsultasie geensins plaasgevind het nie. Ná uitgerekte hofprosedures van vyf jaar is die Voorsittersvereniging deur die regbank van die appèlhof in Maart 2007 gelyk gegee en is die verandering na die naam Makhado tersyde gestel.

Tydens die SAGNR se vergadering op 14 en 15 Januarie in Durban, is beide die aansoek en die beswaar onder die loep geneem. Die naamsraad vind dit nou nodig om ‘n bespreking met die Voorsittersvereniging te hou, maar die datum en plek sal nog bepaal word.

“Dit is nodig dat sekere feite geverifieer word ten opsigte van beide dokumente (die aansoek en die beswaar) voordat ‘n besluit vir die aanbeveling aan die minister gemaak word,” lui ’n skrywe van advokaat Tommy Ntsewa, voorsitter van die SAGNR.

In dieselfde skrywe, gedateer 15 Januarie, sê Ntsewa dat die VV ‘n aanbieding moet doen gebaseer op die dokumentasie wat die VV ingestuur het en dat die raad vrae sal vra. Die Makhado Munisipaliteit en die provinsiale Geografiese Naamskomitee sal versoek word om op hul beurt ‘n aanbieding te maak.

Die VV het reeds die manier van werk van die Stadsraad en provinsiale naamskomitee as ‘n “skande vir Suid-Afrika” bestempel.

“Ons is van plan om die integriteitlose prosesse en integriteitlose politici wat die land en sy mense baie skade aandoen, te ontbloot vir wat hulle is,” het die VV voorsitter, mnr. André Naudé, in November verlede jaar gesê.

Daar is ook beklemtoon dat die vorige saak die land meer as een miljoen rand net aan regskostes uit die sak gejaag het. Die belastingbetaler het dus betaal om teen homself te litigeer.

“In die toekoms sal spesiale punitiewe kostebevele gevra word vir elke raadslid en elke lid van die geografiese naamsraad, sodat integriteit teruggebring kan word in stelsels en prosedures van hierdie land. Die doel is om hierdie kanker van kwaadwillige polities-gemotiveerde optrede wat die res van die land benadeel, uit te wis, vir die rekening van sodanige persone wat hulle weg oop sien om so op te tree. As persone in die luuksheid van korrupte prosedures wil beweeg, dan moet hulle self betaal,” het Naudé gesê.

Na die ontvangs van Ntsewa se skrywe het Naudé vandeesweek gesê dat daar nog steeds aan die VV gesê moet word waarom die dorp se naam moet verander.

“Ons hoor geluide van ‘transformasie’. Dan wil ons weet wat die definisie van transformasie is. Is dit dat sekere kulture ingesluit en ander kulture uitgesluit word?” het Naudé gesê.

Om die naam van Louis Trichardt te verander, is voorheen deur die VV beskryf as ‘n “onredelike en ongefundeerde vernietiging van ‘n waardevolle kulturele erfenis wat die inwoners van die streek sal polariseer en definitief nie sal versoen nie.”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines