ADVERTISEMENT:

 

Bonita Nel kyk deur die gat wat sy en Lizelle Lourens deur die kantoormuur geskop het, sodat Bonita hulp kon gaan kry na die roof.

Rowers plunder selfoonwinkel

 

News  Date: 22 January 2010

 

Nashua Mobile in die Game-kompleks op Louis Trichardt het Maandagoggend die jongste slagoffer geword van ‘n gewaagde gewapende roof.
Vyf ongemaskerde rowers het ongeveer 11:00 die winkel doodluiters binne gestap. Die een het ‘n sak by hom gehad, terwyl twee van die ander rowers gewapen was.
Die rowers het die vuurwapens op die bestuurder, twee personeellede en nog ‘n vrou wat in die winkel was, gerig en hulle na die agterkant van die winkel gedwing. Hierna het die rowers die bestuurder, Lizelle Lourens, gedwing om die kluis oop te sluit. Daarna het hulle die kluis, wat vol selfone en bybehore was, leeggemaak.
Die vroue se handsakke is ook deurgegaan vir kontant en selfone. Bonita Nel, ‘n werknemer by die winkel, is sommer haar hele handsak kwyt. Sy moet nou deur die hele beslommernis gaan om al haar bankkaarte te kanselleer en aansoek te doen vir ‘n nuwe identiteitsboekie.
Die rowers het die vroue in ‘n agterste kantoor toegesluit, waarna hulle die winkel verlaat het. Die waarde van al die gesteelde selfone en bybehore word geskat op R150 000. ‘n Privaat skootrekenaar is ook gebuit.
Die roof het helder oordag gedurende die kompleks se “besigste tyd” plaasgevind en gelukkig is geen skote gevuur nie. Niemand in die kompleks het agtergekom dat daar pas ‘n roof plaasgevind het nie. Dit het eers later aan die lig gekom dat die rowers in ‘n wit of groen BMW gevlug het.
Die vasgekeerde vroue het vergeefs die paniekknoppie bly druk in die hoop dat hul sekuriteitsmaatskappy hulle te hulp sal snel. Nel het reeds die paniekknoppie agter die toonbank gedruk, toe sy besef die winkel word beroof.
Toe die vroue besef dat hulp nie gaan opdaag nie, het Nel en Lourens ‘n gat deur die muurbord van die kantoor geslaan. Nel het deurgeklim en die polisie is ontbied.
Plaaslike polisiewoordvoerder insp. Ndlovu het Dinsdag bevestig dat speurders instaat was om vingerafdrukke op die toneel te lig, maar dat nog geen arrestasies gemaak is nie. ‘n Saak van gewapende roof word ondersoek.
Intussen het Lourens bevestig dat Nashua se hoofkantoor ‘n ondersoek begin het na die winkel se sekuriteitsmaatreëls. ‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die winkel se sekuriteitsmaatskappy versuim het om die radioversender wat met die paniekknoppie gekoppel is te herstel, nadat dit reeds in Desember verlede jaar weens weerligskade onklaar geraak het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines