

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 January 2010
Dit was ‘n bloedige naweek op die streek se paaie wat motorongelukke en padsterftes betref.
Ongelukke het sedert verlede Donderdag die lewens geëis van agt mense, terwyl party in die hospitaal opgeneem is vir behandeling.
In een van die ongelukke het twee vragmotors tromp-op met mekaar gebots, sowat 10km uit op die Waterpoortpad. Die voorval het verlede Donderdag (21ste ) plaasgevind, nadat die bestuurder van ‘n swaarvoertuig, onderweg na Zimbabwe, beheer oor sy vragmotor verloor het.
Die bestuurder het vermoedelik aan die slaap geraak en met ‘n aankomende Unifreight Logistics-vragmotor gebots. Die Unifreight vragmotor is met die impak van die pad af, waarna die aste van die sleepwa afgebreek het. Derduisende rande se skade is aan die vragmotor se vrag (koperkonsentraat) aangerig.
Die baan waarin die twee vragmotors gestaan het, moes vir etlike ure lank vir verkeer gesluit word, terwyl nooddienswerkers die wrakstukke opgeruim het. Wonderbaarlik is niemand in die ongeluk beseer nie.
In nog ‘n voorval Saterdagmiddag, sowat 5km uit op die Levubu/Thohoyandou-pad, is ‘n beampte van die Vhembe-distrik se Departement van Landbou in ‘n motorongeluk oorlede.
Mnr. Litshani Nepfumembe (42) was saam met sy vrou en twee kinders op pad na Thohoyandou. Die Izuzu-bakkie waarmee hulle gereis het, was swaar gelaai met vloerteëls. Nepfumembe, wat bestuur het, het beheer verloor oor die bakkie, waarna dit deur die veiligheidsreling van ‘n brug gebars het en etlike meters verder in ‘n droë rivierbedding op sy dak te lande gekom het.
Nepfumembe is op die toneel dood. Sy vrou en twee kinders is na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal geneem vir mediese behandeling. Die kinders is later ontslaan, maar hulle ma was steeds in ‘n bedenklike toestand teen druktyd.
Die grootste van die ongelukke het Sondagoggend plaasgevind op die N1-suid, toe ‘n bakkie in ‘n petroltenkwa vasgejaag het. Die voorval het naby die Wawiel-burg, sowat 30km buite Polokwane, plaasgevind.
Die bestuurder van ‘n Toyota Raider-bakkie het probeer om ‘n U-draai te maak en tromp-op met die petroltenkwa gebots. Die bestuurder van die bakkie en ses ander passasiers is op die toneel dood.
Met die trefslag het die petroltenkwa langs die N1 tussen die bosse tot stilstand gekom. Die bestuurder was ongedeerd. Polisie in Polokwane het vandeesweek bevestig dat ses sake van strafbare manslag ondersoek word.
Die name van die oorledenes kon teen druktyd nog nie vrygestel word nie.

ADVERTISEMENT:
