ADVERTISEMENT:

 

HO kry eindelik sy nuwe hart

 

News  Date: 14 May 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Na 'n lang wagtyd het H.O. Erasmus voorverlede week 'n nuwe hart ontvang en is sy vordering bevredigend.

H.O. (46) was voorheen werksaam by Werda Motors. Hy is verlede jaar gediagnoseer met hartversaking, nadat hy komplikasies ontwikkel het na afloop van 'n gewone griep in Augustus. Sy hart het net 14% gewerk en was baie vergroot. Alle toetse het aangedui dat 'n hartoorplanting die enigste oplossing vir sy toestand was.

In Desember is H.O. in Milpark in Johannesburg opgeneem, waar hy positief getoets het as 'n gepaste ontvanger. Daarna is hy op die hartoorplantingslys geplaas. Diegene op die hartoorplantingslys moes ook dadelik 'n bedankingsbrief aan die familie van die komende skenker skryf. Wanneer die ontvanger die oproep ontvang dat daar 'n geskikte hart is, moet hy binne vier ure gereed wees vir die teater in Milpark.

H.O. het dié lewensbelangrike oproep ontvang op Woensdag, 28 April. Hy en sy vrou, Heila, was juis op pad terug van 'n mediese besoek vir Heila, wat self nege jaar gelede 'n leweroorplanting ondergaan het. Hulle moes in hulle spore omdraai en dadelik gereed maak vir die operasie.

Volgens sy familie is H.O. teen 11:30 die aand opgeneem in Milpark en het die hartoorplanting omstreeks 12:30 begin. Teen 04:15 was HO reeds uit die teater uit, met 'n nuwe hart in sy liggaam. Die familie rapporteer dat die hartspesialis tevrede is. H.O. kan al rondbeweeg en is Woensdag, 5 Mei oorgeplaas na 'n gewone saal. Na 'n oorplanting volg die belangrike wagtyd om te kyk of die liggaam die nuwe orgaan gaan aanvaar. Vir ses weke sal daar weekliks 'n biopsie gedoen word, 'n tydperk waarin H.O. in Johannesburg moet aanbly.

Intussen is Heila vir toetse opgeneem in die Unitas Hospitaal in Pretoria waar sy moontlik nog 'n tyd sal moet vertoef. Die egpaar se drie tienerkinders, Wynand, Heila en Jolené, gaan in Nylstroom skool. Die gesin het daarheen verhuis sodat hulle nader aan die hospitale in Pretoria en die Rand kon wees. Daar kan die kinders ook by familie bly wanneer hul ouers vir lang tye van die huis af moet weg wees.

H.O. Erasmus se ouers en familie is baie dankbaar vir die nuwe hart wat hy ontvang het en sê, "Ons gee alle eer aan ons dierbare Vader." Hulle bedank ook die skenker se familie en bid vir hulle in hulle hartseer. Die familie wil baie spesiaal dankie sê vir Heila, wat HO altyd so mooi bystaan. Hulle bedank ook mnr. Eddie Schlesinger en personeel van Werda Motors vir hul hulp en bystand, asook vriende en die gemeenskap vir oproepe en gebede.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines