

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 January 2010
‘n Voormalige predikant van Musina is gewond deur ‘n koeël tydens ‘n wilde skietery by Makumbane naby Thohoyandou.
Ds. James van Heerden, voormalige leraar van die Hervormde Kerk op Musina, word in die waakeenheid van die privaathospitaal in Polokwane versorg ná ‘n operasie van anderhalfuur Maandagaand (25ste) om die koeël te verwyder. Volgens mnr. Danie van Heerden, pa van die slagoffer, het die koeël deur sy regtersy gepenetreer, deur die derm en blaas gegaan en in die femur vasgesteek. Hy is buite gevaar en sy toestand is stabiel.
Van Heerden (39), wat ondernemings besit in die groothandel brandstof bedryf, het Maandagoggend verskillende vulstasies besoek en waarskynlik by die laaste vulstasie aangedoen toe die skietery plaasgevind het. Dit was omstreeks 09:30.
Van Heerden het klaarblyklik van die vulstasie se kantoor na sy bussie beweeg toe die insittendes van ‘n silwer Mercedes Benz skielik wild op hom en sy voertuig begin skiet het. Alhoewel hy gewond was en sy voertuig beskadig was, het hy daarin geslaag om tot by Supaquick in Thohoyandou te kom, voordat sy voertuig finaal tot stilstand gekom het.
Volgens een van sy sakevennote, mnr. Stephan Kruger, het die skietery plaasgevind by die BP-vulstasie naby Vhavhenda Steenmakery in Makumbane.
Nog ‘n vennoot, mnr Dick Neluembeni, vertel dat Van Heerden hom geskakel het en toe die foon neergesit het.
“Ek kon die geweerskote hoor. Daar was meer as 30 patroondoppies op die toneel. Hy was die enigste insittende en het self geen skote afgevuur nie. Hy het oorleef deur weg te jaag,” sê Neluembeni.
Van Heerden is na die Tshilidzini Hospitaal geneem vanwaar hy per helikopter afgevoer is na die Pietersburg Privaathospitaal.
Neluembeni het van Van Heerden verstaan dat hy vir ‘n aankomende polisievoertuig geflits het en dat die verdagtes omgedraai het en op die vlug geslaan het in die rigting van Louis Trichardt. Daar word aanvaar dat die motief vir die gewapende rooftog was om geld buit te maak. Die rowers het nie in hulle doel geslaag nie.
Volgens Neluembeni het Van Heerden die Mercedes opgemerk by een van die vorige vulstasies, maar nie in die besonder ag op die voertuig geslaan nie, totdat die skote begin reën het. Volgens inligting was daar vier aanvallers.
Die polisie in Thohoyandou het Dinsdagmiddag gesê dat die verdagtes steeds op vrye voet is.
“Volgens die inligting wat my bereik het, het hulle ontsnap op die Punda Maria-pad in ‘n oostelike rigting,” het Insp. Tshikukuvhe gesê.
Van Heerden het tot ongeveer twee jaar gelede in Musina gewoon, waarna hy na Levubu verhuis het om voltyds aandag aan sy ondernemings te gee.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
