ADVERTISEMENT:

 

Naby Eltivillas (Uitbreiding 13) het rioolprobleme vir die soveelste keer opgeduik. Rioolwater wat opstoot vanaf die nabygeleë riooldam is op 17 Desember waargeneem. Dit gebeur alles binne meters van nuutgeboude huise, oop pype en ‘n waterkraan af. Inlas: Riool afkomstig van ander plekke word in Louis Trichardt se nie-funksionerende rioolstelsel ingepomp. Foto’s verskaf.

Dorp verstik steeds in stink riool-greep

 

News  Date: 29 January 2010

 

‘n Nuwe jaar met nuwe hoop ... Sal die munisipaliteit uiteindelik in rat kom en ‘n nuwe rioolplaas bou en die huidige rioolplaas herstel?

Oplettende belasting­betalers sien dat die rioolstelsel steeds agteruitgaan en dat veranderinge tydelik en soms kosmeties is en nie die kern van die probleem aanspreek nie.

Baie sien die kernprobleem se oplossing dat ‘n nuwe rioolplaas dadelik van die grond af gekry en dat die huidige een in werkende orde gekry moet word. Op die oomblik werk die biologiese filters glad nie en kan die rioolwater hoegenaamd nie gesuiwer word nie. Slegs die grofste materiaal kan uitgehaal word.

‘n Ingeligte bron het gesê dat selfs al sou die huidige rioolplaas 100% herstel kon word, sou dit nie ‘n oplossing wees nie, omdat die riool van die omgewing net hopeloos te veel is om te hanteer.

Tans bereik min van die omgewing se riool die rioolplaas, omdat net een pompstasie, naamlik die een by die tronk, in werkende orde is. Die ander pompstasies, die vlei pompstasie, die Eltivillas-pompstasie en die pompstasie by die bierbrouery, werk nie. Daar word werk gedoen by die bierbrouery pompstasie, maar dit is nie afgehandel nie.

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) bring al vir ‘n paar jaar die situasie onder die aandag van die munisipaliteit en dit is ook een van die punte wat in die dispuutverklaring met die munisipaliteit beklemtoon is. Die SBBV is bekommerd oor die geweldige riviere rou riool wat deur die omgewing vloei, ook naby die dorp se boorgate wat vir drinkwater gebruik word.

Kwezi V3 ingenieursifrma het al vanaf 2007 planne en kosteberamings van die opgradering en vergroting van die rioolsuiweringsisteem voorgelê. Aan die begin van 2009 is die destydse voorlopige kosteberaming daarvoor op R66 miljoen geskat.

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het op 18 Januarie gesê dat ‘n nuwe perseel reeds geïdentifiseer is vir ‘n nuwe rioolplaas, maar hy het nie geantwoord op die vrae waar die perseel is en wanneer daar begin gaan word met konstruksie nie. Dit word aanvaar dat dit ongeveer drie jaar neem om ‘n nuwe rioolwerkplaas te vestig.

Wat die bestaande rioolplaas betref, het Bobodi ‘n navraag in verband met verbeterings wat reeds aangebring is, Maandag beantwoord.

“Die ontsmettingsisteem is geïmplementeer en is funksioneel. Die sluitpomp is opgegradeer en werk goed. Rioolpompe is herstel en funksioneel. ‘n Vloeimeter is herstel en werk goed,” het Bobodi per e-pos gesê. Hy het gesê dat die dienste wat uitgekontrakteer word en nog gedoen moet word, die verouderingsdamme, biologiese filter en pompstasies insluit.

Nie almal stem saam dat die ontsmettingsisteem werk nie en die vloeimeter is volgens ‘n ingeligte bron weer buite werking.

“Die rioolsituasie word nie beter nie, dit word erger,” sê mnr. Herman Smith van die SBBV. Hy grond sy stelling op ‘n vergelyking van die toestand sedert 2007 tot nou. Gedurende Desember verlede jaar en Januarie vanjaar het Smith rondgery en foto’s van die rioolprobleme geneem.

‘n Aaklige bloed- en riooldammetjie naby ‘n slagpale in die industriële gebied is op 1 Desember afgeneem. By navraag het die eienaars aan Smith gesê dat die munisipaliteit hulle gevra het waarom hulle nie maar hulle perseel verskuif nie. Later in Januarie was die bloed en riooldam nie meer op dieselfde plek sigbaar nie. Die eienaars het die riool elders gekanaliseer, maar die werklike probleem is nog nie deur die munisipaliteit aangespreek nie.

Dieselfde dag is ‘n trok in die industriële gebied oos van die treinspoor afgeneem, wat nog riool in die nie-funksionerende rioolstelsel inpomp. Die riool is afkomstig van Bandolierkop-polisiestasie en dit is al jare die gebruik om dit daar te kom inpomp.

“So asof dit nie genoeg is dat Louis Trichardt se oormaat rou riool in die veld inloop nie,” sê Smith.

Naby Eltivillas (Uitbreiding 13) het rioolprobleme vir die soveelste keer opgeduik. Rioolwater is op 17 Desember waargeneem wat opstoot vanaf die nabygeleë riooldam. Dit gebeur alles binne meters van nuutgeboude huise, oop pype en ‘n waterkraan af.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines