

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 January 2010
Die vrou wat in Desember verlede jaar ‘n plaasaanval oorleef het, kan nou ‘n bietjie rustiger slaap met die wete dat haar beweerde aanvaller aangekeer is.
Die 26-jarige Daniel Fulufhelo Muzhanzhi het verlede Dinsdag (19de) vlugtig in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn op een klag van roof met verswarende omstandighede en een klag van die besit van ‘n onwettige vuurwapen.
Muzhanzhi word daarvan beskuldig dat hy me. Aletta du Plooy van Misty Farms op die Witvlag-pad in Desember verlede jaar aangeval het.
Du Plooy is deur ‘n gemaskerde man voor haar woonhuis oorrompel en vasgebind met ‘n slot en ketting. Sy kon gelukkig daarin slaag om haarself los te wikkel en hulp te gaan soek by haar bure.
Muzhanzhi het vóór die aanval op me. Du Plooy met die eienaar van die plaas se vrou vasgesit oor sy lone. Hy het die vrou gedreig en gesê “I’ll come for you!” Sy saak is uitgestel tot 2 Maart, sodat verdere ondersoek ingestel kan word. Hy sal in aanhouding bly tot dan.

ADVERTISEMENT:
