

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 February 2010
Die ma van die tienjarige dogter, wie se stiefpa steeds in aanhouding is op aanklag dat hy onder meer die dogtertjie verkrag het en haar gebruik het vir die vervaardiging van kinderpornografie, dring nou daarop aan dat die Zoutpansberger haar, haar man en haar dogter om verskoning moet vra oor die “nonsens” wat die koerant oor haar man kwytgeraak het.
Die man, ‘n 34-jarige lugmagsersant van LMB Makhado, is op 2 November verlede jaar in hegtenis geneem. Sy inhegtenisname het gevolg nadat sy vrou en ma van die dogtertjie op pornografiese beeldmateriaal van hom en die dogtertjie op die gesin se rekenaar afgekom het.
In die artikel in die Zoutpansberger wat geplaas is na die man se eerste hofverskyning, is daar berig dat die man na bewering die dogtertjie anaal verkrag het en geforseer het om met hom orale seks te hê, terwyl hy die dade met sy selfoon afgeneem het. Dit is nou juis oor die kwessie van anale verkragting dat die ma vir die Zoutpansberger boos is. Tog blyk dit in hierdie stadium dat meer klagte teen die man geformuleer kan word, juis met betrekking tot anale verkragting. Volgens die ma het anale verkragting nie plaasgevind nie en hou die klag van verkragting slegs verband met die daad van orale seks.
Volgens die hofdokumente staan die man tereg op onder meer een klag van verkragting, een van seksuele aanranding, een klag van die vervaardiging van kinderpornografie, een klag van die vertoon van kinderpornografie aan ‘n kind en een klag van die seksuele vorming (grooming) van ‘n kind. Wat die verkragtingsklag betref, is ‘n foto van die daad, wat met die man se selfoon geneem is, as bewysstuk by die hof ingedien. Die klag van seksuele aanranding het ook betrekking met die daad van orale seks, maar ook ander seksdade wat die man na bewering met die dogtertjie uitgevoer het. Twee foto’s, ook geneem met die man se selfoon tydens die uitvoering van hierdie dade, is ook ingedien as bewysstukke.
Dit is weliswaar so dat die man volgens die huidige klagstaat nie van anale verkragting aangekla word nie, maar slegs van seksuele aanranding. Derhalwe het die koerant gaan uitvind wat die definisie van verkragting is ingevolge die nuwe wet op seksuele misdrywe.
Ingevolge die ou wet op seksuele misdrywe kon verkragting slegs plaasvind wanneer ‘n manlike geslagsorgaan ‘n vroulike geslagsdeel penetreer, sonder toestemming daartoe. Dit het onder meer daarop neergekom dat een man wat ‘n ander man verkrag, nooit van verkragting aangekla kon word nie, maar slegs van seksuele aanranding. Die wet is derhalwe gewysig en lees nou dat verkragting plaasvind wanneer enige persoon (nie net ‘n man nie) onregmatig en doelbewus ‘n ander persoon (nie net ‘n vrou nie) seksueel penetreer sonder laasgenoemde persoon se toestemming. Die nuwe wet gee verder ‘n definisie van seksuele penetrasie. Dit sluit in enige daad van seksuele penetrasie, tot welke mate ookal, deur enige deel van die liggaam, enige voorwerp of enige deel van ‘n dier, in of verby die geslagsdele of anus van ‘n ander persoon.
Wat betref hierdie definisie van verkragting is die kanse, volgens inligting, goed dat die Staat hul klag van seksuele aanranding teenoor die man gaan wysig na ‘n tweede klag van verkragting. Op 9 Desember verlede jaar het die man ‘n formele borgaansoek gebring. Die Staat het egter die aansoek teengestaan en die man se borgaansoek is geweier. Dit was juis tydens hierdie hofverskyning wat Landdros Pieter Kellerman, nadat hy die fotobewysse onder oë gehad het, in sy uitspraak gesê het dat die huidige klag van seksuele aanranding ook ‘n moontlike tweede klag van verkragting daarstel.
Tans wag die hof nog op die uitslag van ‘n ondersoek om te bepaal of die foto’s wat van die dogtertjie geneem is, tydens een geleentheid of by meer as een geleentheid geneem is, aangesien dit sal bepaal hoeveel klagte van verkragting teen die man geformuleer moet word. Die Staat voel baie positief dat hulle ‘n skuldigbevinding sal kry, aangesien dit selde gebeur dat fotobewysse soos in hierdie geval beskikbaar is aan die hof. Wat betref die klag, of verdere klagte, van verkragting, staar die man moontlike lewenslange gevangenisstraf in die gesig, sou hy skuldig bevind word.
Die man verskyn op 23 en 24 Februarie weer in die hof op Louis Trichardt, waartydens hy heel moontlik gaan pleit.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
