ADVERTISEMENT:

 

Al wat oorgebly het van die minibus-taxi, ná die tromp-op botsing met die passasiersbus. Foto verskaf

Gru-ongeluk eis 12 lewens

 

News  Date: 05 February 2010

 

Die N1-suid tussen Louis Trichardt en Polokwane was Dinsdagoggend weereens die toneel van ‘n gru-ongeluk wat nie minder nie as 12 mense se lewens geëis het.

Die ongeluk volg bietjie meer as ‘n week ná die dood van sewe mense in ‘n ander gru-ongeluk skaars tien kilometer vanwaar Dinsdagoggend se ongeluk plaasgevind het. Die ongeluk het omstreeks 04:00, sowat 20km buite Polokwane op die N1-noord plaasgevind.

Volgens Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het ‘n groot passasiersbus en ‘n vragmotor in ‘n suidelike rigting gery, toe die bestuurder van die bus skielik beheer verloor het en die bus in die baan vir aankomende verkeer tromp-op met ‘n minibus gebots het.

Dit het ‘n kettingbotsing veroorsaak, waarby nog vyf ander motors betrokke was.

Botha het die toneel as ‘n “nagmerrie” beskryf met verminkte liggame en liggaamsdele wat oral op die N1 gelê het.

“Dit sal nog ‘n rukkie duur voordat daar vasgestel kan word wie in watter voertuig gery het,” het Botha gesê. Meeste van die oorledenes was in die minibus-taxi.

Nog twee mense is in ‘n kritieke toestand afgevoer hospitaal toe. Vyf het ernstige beserings opgedoen en ‘n tweejarige kind is onder een van die wrakke gevind.

Tien ander mense het ligte beserings opgedoen.

Die ongeluk het verkeersvloei op die N1 erg ontwrig, terwyl reddingswerkers die beseerdes bygestaan het en die liggame en wrakstukke verwyder het. Na wat verneem word is meeste van die slagoffers Zimbabwiërs en sal die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese owerhede saamwerk met die uitkenning van die liggame.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines