

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 February 2010
Die polisie op Louis Trichardt het inwoners herinner aan die amnestietydperk vir die inhandiging van onwettige vuurwapens.
Dit volg na die afkondiging van die Minister van Polisie, mnr. Nathi Mthetwa, in November verlede jaar dat daar ‘n amnestietydperk vanaf 11 Januarie tot 11 April hierdie jaar sal wees. Dus sal diegene wat in besit is van onwettige vuurwapens nou kans hê tot 11 April om hulle vuurwapens in te handig, sonder die vrees vir vervolging. Persone wat egter misdade gepleeg het met ‘n onwettige vuurwapen sal nie gevrywaar word van verdere vervolging nie.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het verduidelik dat die amnestietydperk mense die geleentheid gee om enige vuurwapen, wettig of onwettig, aan die polisie oor te gee.
Indien iemand wat aansoek doen om amnestie die vuurwapen indien en ‘n lisensie vir daardie vuurwapen wil hê, moet hy/sy ingevolge Artikel 139(4) van die Vuurwapenwet skriftelik aansoek doen om amnestie.
Die vuurwapen en ammunisie waarvoor amnestie gevra word, moet dan by ‘n polisiekantoor ingehandig word en ‘n kwitansie moet aan die aansoeker uitgereik word.
Wanneer iemand om amnestie aansoek doen, moet hy skriftelik meld dat hy aansoek gaan doen om ‘n lisensie vir die vuurwapen en ammunisie soos bedoel ingevolge Artikel 139(4)(1) van die Vuurwapenwet. Daarna moet hy binne 14 dae ‘n aansoek indien vir ‘n vuurwapenlisensie.
Die amnestietydperk sal ook mense wat die vorige afsnydatum vir die aansoek vir wapenlisensies gemis het, die kans gee om nou aansoek te doen vir hulle lisensie.
In ‘n openbare inligtingstuk het die Minister van Polisie aangekondig dat ‘n vuurwapeneienaar met ‘n vuurwapenlisensie, -permit of –magtiging wat nie aansoek gedoen het om die hernuwing daarvan nie, tot 11 April aansoek kan doen.
‘n Vuurwapeneienaar sal nog steeds moet voldoen aan al die bepalings van die wet, maar hy hoef nie die betrokke vuurwapen by die SAPD in te handig nie.
‘n Aansoek kan gebring word op ‘n SAP 271-vorm, waarna al die nodige verklarings en bevoegdheidsertifikaat saam ingedien moet word. ‘n Aansoeker moet self seker maak dat hy ‘n kwitansie (SAP 523-vorm) van die polisie ontvang wat as erkenning dien dat daar wel ‘n aansoek ingedien is.
Volgens kapt. Sadike sal kapt. Erica Bezuidenhout, insp. Khosa, insp. A. C. Mushidzhi of insp. Mashanisi vuurwapeneienaars behulpsaam wees gedurende die amnestietydperk.
Hulle sal beskikbaar wees by die plaaslike polisie se aanklagkantoor in Kroghstraat gedurende kantoorure.
Al die wapens wat bymekaar gemaak is, sal volgens wet binne ses maande na die spertyd deur die polisie vernietig word. Niemand, nie eens die persone wat van wettige vuurwapens ontslae wil raak, sal egter enige vergoeding ontvang nie.

ADVERTISEMENT:
