ADVERTISEMENT:

 

‘n Unieke reënmeter met ‘n staal stralekransie om, doen sy werk vir die laaste 25 jaar. By die reënmeter staan mnr. Willie Agenbacht, wat die reënval getrou aanteken.

Oom Willie se syfers maak interessante leesstof

 

News  Date: 05 February 2010

 

‘n Unieke reënmeter met ‘n stralekransie om, doen sy werk al getrou vir die laaste 25 jaar op Louis Trichardt.

Die staal stralekransie was weliswaar nie van altyd af daar nie, maar oom Willie Agenbacht het die reënmeter in sy tuin in Malvastraat daarmee gekroon om ‘n laspos uit te oorlê.

Die laspos was Janfiskaal, wat alewig op die reënmeter se rand kom sit het en dan in die reënwater gemis het. Nou is almal tevrede: Janfiskaal sit op die ring soveel as hy wil en oom Willie se reënmeter bly ongeskonde.

Die reënvalsyfers is daagliks noukeurig deur oom Willie (73) aangeteken. Algou het hy en vroulief Ella hulle intelligente huishulp opgelei om die reënmeter leeg te maak en die reën aan te teken wanneer hulle rondreis of toer om musiek op ander plekke te gaan maak. Oom Willie is die musikant, terwyl hy en tannie Ella nog albei hul beroep as rekenmeesters beoefen.

“Daar was net een week in die 25 jaar wat ek die reën moes skat,” sê oom Willie. Dit sal egter nie ‘n wesenlike verskil aan die gemiddeldes maak nie.

“Wat my opgeval het, was dat ek in die jaar 2000 vanaf Januarie tot en met Desember presies 2 000mm reën by my huis gemeet het. Natuurlik verskil die reënval van gebied tot gebied en selfs van straat tot straat,” sê oom Willie.

Hy onthou nog die nag van 4 Februarie 1993. Van die 253mm wat in Februarie 1993 geval het, het 140mm daardie nag geval, ‘n “wonderlike seën”. Voor daardie nag het die damvlak van die Albasinidam op minder as 4% gestaan. Kenners het destyds geraam dat, met die opslikking in ag geneem, daar waarskynlik nie meer as 2.5% water in die dam oor was nie. Ná daardie nag het die opvanggebied van die Albasinidam genoeg reën gekry om die damvlak te laat styg na amper 23%. Die Albasinidam staan tans op 25%.

Het oom Willie enige neigings of patrone waargeneem?

“Dit is algemene kennis dat Januarie tot Maart ons vernaamste reënmaande is. Daar is egter ‘n neiging, alhoewel nie deurlopend nie, dat wanneer goeie reën reeds vroeg in die eerste helfte van die seisoen begin val, dit ook vroeër in die tweede helfte reeds begin afplat. Voorbeelde hiervan is sigbaar in die seisoene 1985/6, 1986/7, 1988/9, 1993/4, 1997/8, 2001/2002 en 2007/8,” sê oom Willie.

Saam met die daaglikse aanteken van die reënvalsyfers, het oom Willie ook ‘n opsomming gemaak wat die reënval van elke maand, die totale per kwartaal en per kalenderjaar, asook die totale per jaar vanaf 1 Julie tot 20 Junie insluit. Die gemiddelde reënval in Februariemaand oor die afgelope 25 jaar was 160mm. Dit is die hoogste, met Januarie (131mm), Desember (116mm) en Maart (109mm) daaropvolgend. Die hoogste reënval wat in een maand gemeet is, is met die vloede in Februarie 2000 toe 947mm gemeet is. Daarna volg die 462mm in Maart 2004, die 378mm in Februarie 1996, 360mm in Januarie 2000 en 328mm in Januarie 2009. In kalenderjare het 2009 die derde hoogste reënval gehad, naas die jaar 2000 en 1996. Die droogste kalenderjare was 1994 en 2002.

Indien die reënseisoen vanaf 1 Julie tot 30 Junie geneem word, was die natste jare 1999/2000 met 2 048mm, 1996/1997 met 1 164mm, 1995/6 met 1 115mm en 2008/9 met 980mm. Die droogste jaar was 1991/1992 met ‘n skrale 257mm vir die jaar, 2002/3 met 450mm en 2004/5 met 409mm. Oor hierdie kwarteeu het dit gemiddeld 774mm per kalenderjaar gereën en 768mm per reënjaar vanaf Julie tot Junie.

Volgens die grafiek van jaargemiddeldes oor die 25 jaar, kan dit lyk of ‘n beter reënvaltyd aangebreek het, maar oom Willie wil nie byt aan die aas om as weerprofeet ‘n nuwe reënsiklus te voorspel nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines