

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 February 2010
Terwyl aangekondig is dat Pretoria steeds Pretoria bly, is die vraag of die naam van Louis Trichardt ook Louis Trichardt gaan bly.
Die nasionale geografiese naamsraad het verlede week ‘n spesiale feitesending in Louis Trichardt gehou. Die drie partye wat die naamsraad na die vergadering op 4 Februarie by die La Ndou Konferensiesentrum genooi het, is die Makhado Munisipaliteit, die provinsiale naamskomitee en die Voorsittersvereniging (VV).
Die VV het gesê dat hulle nie met die SAGNR in gesprek sal tree alvorens daar nie aan hulle vereistes voldoen word nie. Hulle het nie die vergadering bygewoon nie. Die ander twee partye was teenwoordig.
Adv. Tommy Ntsewa, voorsitter van die SAGNR, het ook nie die vergadering bygewoon nie. Raadslid Lebogong Nawa het, volgens die naamsraad se persverklaring, gesê dat Ntsewa nie teenwoordig was nie as gevolg van die VV se beswaar “teen sy teenwoordigheid, as gevolg van die rol wat hy destyds in die provinsiale naamsraad gespeel het.” Volgens Nawa was dit ‘n poging om die VV te akkommodeer.
Die VV se vereiste het meer behels as die afwesigheid van Ntsewa by ‘n vergadering.
“Ons het versoek dat advokaat Ntsewa afstap as voorsitter en lid van die SAGNR, aangesien hy tevore op rekord gesê het dat konsultasie nie nodig was om die dorp se naam Makhado te maak nie. Weens sy partydigheid is dit onvanpas dat hy deel vorm van enige prosesse,” het die VV gesê. Die ander voorvereistes wat die VV gestel het voor hulle die naamsraad sal ontmoet, is die ontvangs van spesifieke inligting rondom watter aspekte van hulle beswaar op die ontmoeting bespreek sal word, die ontvangs van die notule van die SANGR vergadering van 14 en 15 Januarie en besonderhede van die raadslede.
Die SAGNR het in ‘n skrywe van 26 Januarie gesê dat die inligting rondom die raadslede vertroulik is en dat die VV hulle self kan vra by die ontmoeting.
Naamsraadslede Mandla Mathebula en Lebogong Nawa het tydens die feitesending gesê dat die raad besluit het om die vergadering te hou “om te verseker dat die raad al die nodige inligting het om ’n ingeligte besluit te kan neem.”
Volgens die persverklaring het Mathebula gesê dat hulle nie die beswaar van die VV kon ignoreer nie. “Daarom het ons besluit om hulle aan te hoor.” Mathebula het ook gesê dat as die naamsraad tevrede is dat die aansoek van die munisipaliteit aan al die voorwaardes voldoen, “die naam aan Kuns en Kultuurminister Lulu Xingwana aanbeveel sal word vir haar goedkeuring.” Die aanbeveling handel oor die naam Makhado. Slegs as daar weglatings of foute in die aansoek van die munisipaliteit is, sal die aansoek na die munisipaliteit terugverwys word, het Mathebula gesê.
In ‘n skrywe aan die VV, gedateer 20 Januarie, het die naamsraad egter gesê dat die aansoek, sowel as beswaar, as finaal beskou sal word ná die vergadering in Louis Trichardt.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
