

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 February 2010
Die Els-egpaar, oud-inwoners van Louis Trichardt, is verlede Woensdag op ‘n wreedaardige wyse vermoor in hulle aftreehuis in Swellendam.
Mnr. Nick Els (63) en sy vrou Elsie (58) is vermoedelik met ‘n stomp voorwerp, soos ‘n piksteel, doodgeslaan.
Elsie, ‘n nooi Vermaak, het in Louis Trichardt grootgeword in 1968 aan Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer. Sy was voor haar huwelik met Nick, werksaam by Volkskas Bank en daarna by Sheldon & Prinsloo Boekhouers.
Nick was destyds die junior gesondheidsinspekteur van die Makhado Munisipaliteit, waarna hy bevorder is tot senior inspekteur van die Phalaborwa Munisipaliteit.
Die Els-egpaar het twee seuns, Jaco en Francois.
Sowat vyf jaar gelede het Nick en Elsie besluit om in Swellendam af te tree, omdat hulle in ‘n stil, veilige dorpie wou bly.
Elsie het ‘n dekorwinkel, Something Else, in Swellendam bedryf, terwyl Nick haar daarmee gehelp het.
Daar sal volgende Vrydag (19de) ‘n roudiens in Phalaborwa se NG Kerk vir die egpaar gehou word.
Mnr. Henk Vermaak van Louis Trichardt het namens die Vermaak-gesin die gemeenskap bedank vir al hulle oproepe en vertroosting.

ADVERTISEMENT:
