

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 February 2010
‘n Geweldige slag in Hertzogstraat op Louis Trichardt is Saterdagmiddag ver en wyd gehoor. Takke van ‘n reuse boom het geval en ‘n inwoner se hek erg beskadig. Gelukkig is niemand beseer nie.
“Ons het die munisipaliteit gewaarsku dat die boom gaan val, maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie,”sê Prof. Peet du Toit.
“Nou sit ons met die skade en dit is die munisipaliteit se skuld,” sê me. Nicolene du Toit.
In November verlede jaar het die Du Toits aan die Makhado Munisipaliteit gerapporteer dat munisipale werkers sommer links en regs takke van die pragtige flambojant bome in die straat afgeskeur het. Die werkers het gesê dat dit hulle opdrag is omdat vragmotors daar moet ry.
“Watter trokke ry nou hier?” vra die inwoners van dié besondere stil straatjie. Die du Toits het ‘n munisipale beampte in besturende hoedanigheid laat kom, wat baie verskoning aangebied het en gesê het dat die werkers nuut is in hulle werk. Prof Du Toit het die bestuurder pertinent gewaarsku dat die plekke waar die takke afgeskeur is insekte lok wat die boom dan van binne opvreet en tot gevolg sal hê dat die takke sal val. Die munisipaliteit het slegs een van die takke kom netjies saag.
Insekte, moontlik swart termiete, het toe onopsigtelik in die boom ingetrek en sowat twee en ‘n half maande later het die reuse tak geval. Dit was omstreeks 14:30.
“Dit was die mooiste boom. So groot soos ‘n sambreel. Daar was voorheen nooit enige termiet in nie. Hierdie bome het ‘n manier om hulself te balanseer, dus kan daar nog takke val,” sê me. Du Toit.
Buurvrou Astrid van Wyk is woedend vir die munisipaliteit.
“Dit is onbevoegdheid van voor tot agter,” sê Van Wyk. “Die boom is definitief ouer as 40 jaar, want hy was reeds hier toe ons huis gebou is. Dit kan so tussen 40 en 100 jaar oud wees.” Die helfte van die takke het in haar erf geval en kosbare plante doodgeval. Van Wyk se broer, mnr. Johan Kirschoff, het foto’s geneem onmiddellik nadat die boom geval het en bygestaan met die opruiming.
Intussen was die Du Toits vasgekeer in hul erf. Beide die motorhek en die kleinhekkie was toegeval.
“Dit voel soos in ‘n tronk. Hoe gaan ons môre kerk toe en Maandag werk toe?”
Beide is afgetree maar werk steeds. Hulle het die munisipaliteit aanhoudend geskakel en gehoor dat daar niemand beskikbaar was om te help nie, maar dat hulle sal probeer. Daar het egter niks van gekom nie en mnr. Piet du Toit van Mooimaak Tuindienste het sy amperse naamgenoot kom uithelp. ‘n Paar ure later kon die Du Toits darem weer by die hekke uitkom.
Die skade word beraam op amper R10 000. Me. Du Toit sê dat hulle by hul versekering gaan eis en dat die versekering met die munisipaliteit sal moet onderhandel.
“Ons sien regtig nie kans om met hulle te werk nie.”
Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, is genader vir kommentaar oor die voorval, maar teen druktyd het hy nog nie gereageer nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
