ADVERTISEMENT:

 

“Ek’s sharp!” wys die 7-jarige Caitlyn. Sy moes 600 steke ontvang, nadat ‘n maatjie se boerboel haar oor ‘n heining probeer pluk het.

Orals was net bloed gewees ...

 

News  Date: 19 February 2010

 

“Orals was bloed gewees … dit was verskriklik!” So onthou Ma Retha Henning van Louis Trichardt die skokgebeure van Maandag, 8 Februarie, toe ‘n buurman se massiewe boerboel haar sewejarige dogtertjie, Caitlyn, oor ‘n heining gegryp en probeer verskeur het.
Seshonderd steke later, is Caitlyn terug by die huis.
“Ek’s sharp!” sê die dapper meisietjie, te midde van haar traumatiese ervaring. Sy is ‘n leerling by Laerskool Louis Trichardt, maar is net te bly oor die drie weke wat sy by die huis kan bly.
“Ek mis nie skool nie. Ek doen steeds my huiswerk, maar my mamma moet dit vir my neerskryf, want die hond het my aan my skryfarm gebyt,” sê Caitlyn.
Klein Caitlyn was dié betrokke dag besig om op haar trampolien te speel by haar ouers se huis in Groblerstraat. In ‘n stadium het sy met haar maatjie, wat agter hulle woon, begin gesels en vir balans aan die betonheining vasgehou.
Die maatjie se massiewe boerboel het vanuit nêrens op die heining afgestorm, opgespring en klein Caitlyn aan die regter voorarm beetgekry.
Die hond het Caitlyn wild begin rondpluk in ‘n skynbare poging om haar oor die heining te trek, maar sy het vir lewe en dood aan die heining vasgeklou. Haar maatjie het desperaat probeer om die hond sover te kry om te los, maar dit was eers nadat die vleis aan klein Caitlyn losgeskeur het, dat die hond sy greep gelos het. Met dié het Caitlyn teruggeval op die trampolien en vir haar ma geskreeu vir hulp.
Caitlyn is opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal waar haar toestand gestabiliseer is. Sy is daarna oorgeplaas na Polokwane vir verdere behandeling.
“Die hond se mond het so vasgebyt … hy wou nie los nie. Eers toe die vel uit my arm los kom, het hy my gelos,” het klein Caitlyn verlede Vrydag vertel waar sy by die huis aansterk.
Ten spyte van die ernstige bytwonde en die feit dat mens haar “bene kon sien” deur die oop wond, was Caitlyn baie braaf in die hospitaal.
“Ek was nie bang nie! Ek het omtrent die heeltyd geslaap,” vertel Caitlyn.
Ma Retha sê dat Caitlyn kwaai letsels aan haar arm sal oorhou. Senuwee- en spierweefsel is beskadig en Caitlyn sal waarskynlik nie die volle gebruik van haar arm terugkry nie.
Intussen het die eienaars van die hond onderneem om ‘n meter-wye afskorting tussen die muur op te rig, sodat die hond nie weer naby die muur kan kom nie.
“Ek is net bly dat die hond nie daarin geslaag het om vir Caitlyn oor die muur te trek nie. Mens moet maar altyd paraat wees waar groot honde in die omgewing is,” het Retha gesê.
Retha het almal bedank wat vir Caitlyn gebid het en boodskappe van bemoediging gestuur het.
“Ek wil ook graag die personeel by die Zoutpansberg Privaathospitaal bedank vir hulle vinnige diens en hulp, asook dr. André van der Walt wat ons bygestaan het.”

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines