ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Gert du Preez (45).

“Model boer” sterf in skietongeluk

 

News  Date: 19 February 2010

 

‘n Boer van die Waterpoort-omgewing, mnr. Gert du Preez, is vroeg Sondagoggend in ‘n skietongeluk oorlede.
Die 45-jarige Du Preez van die plaas Enfield was besig om ‘n geweer in ‘n brandkluis te bêre, toe daar skielik ‘n skoot afgegaan het en die koeël hom noodlottig getref het. Dit is onduidelik wat presies veroorsaak het dat die skoot afgegaan het.
Du Preez het op die familieplaas groot­geword en is deur baie beskryf as ‘n “model boer”. Hy het saam met sy vrou, Marleen, en drie kinders, Tharien (17), Heste-Lize (15) en Gerdus (10), op die plaas tussen Waterpoort en Vivo gebly, waar hy met onder andere suikermielies, kleinvee en babagroente op groot skaal geboer het.
Du Preez het in 1983 aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé gematrikuleer. Hy was ‘n uitmuntende sportman en het uitgeblink in atletiek. Hy het ook vir die skool se eerste rugbyspan gespeel, was hoofseun in Rooibok koshuis en het op die skool se leerlingraad gedien. Later jare was Du Preez betrokke by die Vivo CVO-skool waar hy vir etlike jare op die skool se opvoedingsraad gedien het.
Volgens sy broer, Hannes, was die natuur een van sy broer se groot liefdes. “Hy was ook baie lief daarvoor om te gaan jag.”
Du Preez sal eerskomende Vrydag (19de) om 11:00 vanuit die NG Kerk op Vivo begrawe word.
Hannes het Maandag gesê die familie gaan deur ‘n moeilike tyd, maar dat die ondersteuning van vriende, familie en die gemeenskap hulle las ligter maak.
Du Preez word oorleef deur sy vrou en drie kinders, ouers Gert en Hettie du Preez, susters Marika en Cornel en broer Hannes.
“Ons wil graag al ons familie en vriende bedank vir hulle ondersteuning. Gert se swaers, Japie, Kobus en Yssel van der Goot, is ook groot steunpilare vir Marleen in haar moeilik tyd,” het Hannes gesê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines