ADVERTISEMENT:

 

Van die perde wat op ‘n erf in die residensiële area van Louis Trichardt aangehou is. Aanvanklik was daar net twee, maar na ‘n besoek van die ooievaar, was daar vier. Na klagte van bure moes die familie wat die perde aangehou het hierdie week alternatiewe blyplek vir die diere kry.

Perde in agterplaas hoort nie daar nie

 

News  Date: 19 February 2010

 

‘n Familie van Presidentstraat op Louis Trichardt, wat vier perde strydig met munisipale ordonnansies op hul erf in ‘n woongebied aangehou het, moes hierdie week noodgedwonge ‘n ander heenkome vir die diere kry.

Dit het gevolg op klagte van hul bure rakende die stank en vlieëprobleem wat die diere veroorsaak het. Die familie het aanvanklik twee perde bekom wat vir terapeutiese doeleindes gebruik is vir hul 12-jarige gehoorgestremde seun. Intussen het die ooievaar kom besoek aflê en het die twee perde vier geword. Buiten vir genoemde klagte, was van die bure ook bekommerd oor die welstand van die perde.

Een van die bure het aan die Zoutpansberger gesê dat hulle by verskeie geleenthede die kwessie met die Makhado Munisipaliteit, asook die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV), opgeneem het.

By navraag het mev. Bea Reimer van die DBV bevestig dat hulle gereeld by die familie se perde ingeloer het om seker te maak dat hulle gesond is.

“Die perde is nie mishandel nie en was in ‘n goeie kondisie,” het sy gesê. In dieselfde asem het Reimer gesê dat die DBV slegs gemoeid is met diere se welstand en nie verantwoordelik gehou kan word vir die afdwing van munisipale ordonnansies nie.

“Die perde word gehuisves op ‘n residensiële erf, dus is dit ‘n munisipale probleem. Dit is hulle verantwoordelikheid om die perde te verwyder,” het Reimer gesê. Sy het egter genoem dat die probleem van mense wat diere aanhou wat nie algemene troeteldiere is nie, ‘n probleem in die dorp is.

Maar wat presies bepaal die munisipale ordonnansies ten opsigte van die aanhou van diere, anders as katte en honde?

Volgens die Ordonnansie op Plaaslike Bestuur mag “niemand enige lewendehawe (vee), buiten pluimvee, op persele geleë op grond wat minder as 1ha groot is, aanhou nie, met dien verstande dat in die geval van ‘n handelaar of spekulant in lewendehawe, die grond nie minder nie as 2,5ha groot moet wees.”

Dus, geen klein- of grootvee mag op ‘n residensiële erf aangehou word nie.

Die ordonnansie bepaal verder dat “niemand enige dier, buiten ‘n kat, hond of meer as tien konyne of 20 stuks pluimvee aanhou nie, tensy hy die houer is van ‘n permit uitgereik deur die gesondheidsbeampte.”

Op ‘n vraag oor waarom die munisipaliteit vir meer as ‘n jaar toegelaat het dat die perde op die erf aangehou word, het munisipale woord­voerder mnr. Louis Bobodi bloot gesê dat die munisipaliteit bewus was van die probleem en dat die familie ‘n finale waarskuwing gekry het om die perde te verwyder. Dit het behels dat die familie voor die 15de van hierdie maand alternatiewe huisvesting vir die diere moes kry – wat wel plaasgevind het.

Die Zoutpansberger het die familie genader vir kommentaar. Hulle was egter ontsteld oor die aangeleentheid en het verkies om nie amptelik in die koerant kommentaar te lewer nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines