

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 February 2010
‘n Vermeende siggaretsmokkelaar se poging om van die gereg te vlug het verlede Vrydag baie nadelig vir hom geëindig.
‘n Nege-en-twintigjarige man is deur die Makhado polisie gearresteer, nadat hy eers vir hulle weggejaag het en later van agter teen ‘n ander voertuig gebots het. Dié wilde jaagtog het homself Vrydagoggend op die N1-noord afgespeel.
Volgens plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike, het die man paniekerig geraak toe hy ‘n polisievoertuig agter hom gewaar het. Hy het versnel en teen hoë spoed, roekeloos teen die berg begin afjaag.
Net ná die Witvlag-afdraaipad het die man beheer oor sy voertuig verloor, nadat hy tevergeefs probeer het om vir ‘n stadiger voertuig voor hom te stop. Hy het die voertuig voor hom getref. Die voorste voertuig het van die pad af getol en in ‘n dreineringsloot beland, terwyl die verdagte se voertuig in ‘n toegegroeide plaaspad tot stilstand gekom het.
In daardie stadium was die polisie nie seker waarom die man weggejaag het nie. By nadere ondersoek het die polisie egter op etlike duisende rande se onwettige sigarette in die verdagte se voertuig afgekom.
Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem. Niemand is ernstig in die voorval beseer nie.
Sadike het gesê ‘n klag van roekelose en nalatige bestuur en ‘n klag van onwettige sigaretsmokkel word teen die man ondersoek. Teen druktyd moes hy nog in die hof verskyn.

ADVERTISEMENT:
