ADVERTISEMENT:

 

Nog twee mense is dood, nadat die bestuurder van die luukse voertuig beheer oor die voertuig verloor het en met ‘n aankomende petroltenkwa gebots op die N1-noord op presies dieselfde plek waar Nico Roets se ongeluk verlede week gebeur het.

Vlaag gru-ongelukke eis reeds 17 lewens

 

News  Date: 26 February 2010

 

In ‘n ononderbroke vlaag van gru-ongelukke op die streek se paaie sedert die begin van Februarie is 17 mense dood en 18 ernstig beseer.

Vroeër die maand is 12 Zimbabwiërs dood in ‘n botsing tussen ‘n passasiersbus, vragmotor en ‘n minibus sowat 20km buite Polokwane op die N1-noord. Nog twee mense is in ‘n kritieke toestand afgevoer hospitaal toe. Vyf het ernstige beserings opgedoen en ‘n tweejarige kind is onder een van die wrakke gevind. Tien ander mense het ligte beserings opgedoen.

In nog ‘n voorval het ‘n inwoner van Louis Trichardt, mnr. Nico Roets, ternouernood ontkom, toe hy verlede Maandag (15de) beheer oor sy bakkie verloor het. Hy was op pad Musina toe, toe sy bakkie op olie gegly het op die padoppervlakte naby die Witvlag-afdraai op die N1-noord. Die bakkie het begin rol en teen ‘n veiligheidsreling te lande gekom.

‘n Polisievoertuig, wat verby gery het, en die ongeluk gesien gebeur het, het dadelik gestop om Nico te hulp te snel. ‘n Vragmotor wat van Musina se kant af om die draai gekom het, het tevergeefs probeer om te stop toe hy Nico se bakkie gewaar.

Volgens Nico se vader, mnr. André Roets, het die vragmotor geknipmes en “soos ‘n stuk spaghetti oor die pad gegly.” Nico en die polisieman moes spring om uit die pad van die aankomende vragmotor te kom.

Nico is na die privaathospitaal geneem vir mediese behandeling en moes vir ‘n geruime tyd met ‘n nekstuk oor die weg kom.

In nog ‘n voorval, sowat 10km uit op die Louis Trichardt/Thohoyandou-pad, is drie mense in ‘n motorongeluk oorlede.

Dié drie, wie se name teen druktyd nog nie bekendgemaak is nie, was verlede Dinsdagmiddag op pad vanaf Thohoyandou na Louis Trichardt, toe die bestuurder beheer oor haar motor verloor het. Haar voertuig het net vóór ‘n brug die pad byster geraak, waarna dit deur die lug getol het en etlike meters verder in ‘n droë rivierbedding te lande gekom het. Twee passasiers, ‘n man en vrou, is op die toneel dood. Die bestuurder is na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal vervoer, waar sy ‘n dag later aan haar wonde beswyk het.

In ‘n derde voorval, op presies dieselfde toneel waar Nico vroeër in ‘n padongeluk betrokke was, is twee mense die afgelope naweek in ‘n motorongeluk oorlede. Die voorval het Saterdagoggend omstreeks 10:00 plaasgevind.

Die bestuurder van ‘n luukse voertuig, wat onderweg was na Louis Trichardt, het op die nat teerpad beheer verloor. Volgens plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike wil dit voorkom of die bestuurder teen ‘n hoë spoed teen die berg af gery het. Sy voertuig het oor die pad getol en voor ‘n aankomende petroltenkwa beland. Met die trefslag het die agterkant van die voertuig in vlamme uitgebars.

Gelukkig kon die bestuurder van die petroltenkwa daarin slaag om die vlamme te blus met ‘n brandblusser.

Die vragmotorbe­stuurder het ‘n desperate poging aangewend om die vasgekeerde passasiers uit die wrak van die voertuig te bevry.

Reddingswerkers moes egter lewenskake gebruik om die vier mans te bevry. Die bestuurder van die voertuig en een passasier is opslag dood. Die ander twee passasiers is in ‘n bedenklike toestand na die Louis Trichardt Gedenk­hospitaal vervoer vir mediese behandeling.

Teen druktyd was hulle toestand nog steeds kritiek.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines